|

AfriForum verkla Opod-ondersoeker oor oënskynlike gebrek aan vordering in ondersoek na magsmisbruik

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandag namens Anja Pentz ’n formele klag teen T.A. Mashitisho, ’n ondersoeker van die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod), gelê nadat die ondersoek na beweerde polisiemagmisbruik by die Wierdabrug-polisiestasie in April vanjaar oënskynlik nog geen resultate opgelewer het nie. Dié klag is aan die kantoor van Jennifer Ntlaseng, die uitvoerende direkteur van Opod, gestuur.

Pentz is na bewering op 22 April 2021 deur beamptes van die Wierdabrug-polisiestasie aangerand en ure lank toegesluit nadat sy ’n kapingspoging by dié polisiestasie wou aanmeld. Die polisiebeamptes het haar valslik van openbare dronkenskap aangekla en toegesluit toe sy probeer het om foto’s van hulle te neem waar hulle versuim om haar met die aanmelding van ’n misdaad te help. Pentz is na bewering aan haar nek gegryp, daar het ook geld uit haar beursie verdwyn en polisielede het na bewering haar selfoon beskadig. Die privaatvervolgingseenheid ondersteun Pentz sedert Mei met die klagtes wat sy toe reeds teen die polisiebeamptes gelê het. Dit sluit in aanranding, diefstal (geld uit haar beursie) en kwaadwillige saakbeskadiging (haar selfoon).

Die dossier teen die betrokke Wierdabrug-polisiebeamptes is volgens die stasie reeds in Mei aan Mashitisho oorhandig. Desnieteenstaande, het hy tot dusver nog geen terugvoer aan Pentz of die Privaatvervolgingseenheid oor die ondersoek verskaf nie. Volgens die Wierdabrug-polisiestasie se waarnemende bevelvoerder is ’n dissiplinêre ondersoek ook eers op 21 September 2021 geregistreer teen die bevelvoerder wat aan diens was op die aand van die voorval.

Volgens adv. Phyllis Vorster, aanklaer by die privaatvervolgingseenheid, is dit uiters kommerwekkend dat dit blyk dat ’n instelling wat veronderstel is om die wangedrag van polisielede te ondersoek, bloot hul skouers ophaal en hoop die saak verdwyn. “AfriForum se privaatvervolgingseenheid gaan nie toelaat dat hierdie tipe geweld teen vroue bloot onder die mat ingevee word nie. Ons sal dus aanhou om druk toe te pas totdat daar daadwerklik teen die betrokke polisielede opgetree word.

* Klik hier om die vorige verklaring te lees.

Soortgelyke plasings