|

Wetsontwerp kan Nzimande mag gee om universiteite te kelder

Dr. Blade Nzimande kan nou behoorlik sy mes vir openbare universiteite uitpluk nadat ’n omstrede Wysingswetsontwerp op Hoër Onderwys vandeesweek in die parlementêre komitee oor hoër onderwys aanvaar is.

Ingevolge die wetgewing kry die minister nou die mag om transformasiedoelwitte vir universiteite se inskrywings vas te stel en staatsubsidies te weerhou as dié teikens nie bereik word nie.

Die DA het kapsie teen die aanvaarding van die wetsontwerp gemaak.

Belinda Bozzoli, DA-skaduminister vir hoër onderwys, het in ’n artikel verduidelik dat die wetsontwerp ernstige gevolge vir instellings se outonomie en akademiese vryheid inhou. Dit gee heeltemal te veel mag aan die minister wat beteken dat hy hom op talle terreine by universiteite en hul aktiwiteite sal kan inmeng.

Die gevaar met die nuwe wetsontwerp is dat dit uiting gee aan die algemene beginsel van die ANC-regering dat hy moet en kan ingryp wanneer en waar hy meen dit nodig is. Nzimande sal indien die wetsontwerp finaal goedgekeur word ’n universiteit kan oorneem en besluite neem soos dit hom pas. Universiteitsowerhede sal weinig kan doen om dié besluite teen te staan selfs al is dit nie in belang van die instelling, studente of hoër onderwys in die breë nie.

Onder die ministeriële magte wat in die wetsontwerp uitgebrei word, is die mag om beleide te bepaal soos instellings se taalbeleid en transformasiedoelwitte. Die minister sal ook die mag hê om in te meng by die programme wat instellings aanbied en in die verband aan hulle kan voorskryf.

Akademici en onderwyskenners met wie Forum Nuus gepraat het, het bedenkinge oor die wetsontwerp. Kommer is uitgespreek dat instellings wat tans onder enorme druk steeds goed funksioneer en gehalte-onderrig bied eerste in Nzimande se visier sal wees om sogenaamde transformasie te versnel. “Hoekom fokus die minister en regering nie eerder op sukkelende universiteite wat die afgelope jare hoeveel keer onder administrasie geplaas is nie? Hoekom word daar nie gekyk hoe die sogenaamde benadeelde instellings ondanks enorme finansiële steun en infrastruktuur-uitbreiding nie daarin slaag om dieselfde gehalte studente op te lewer wat die arbeidsektor en ekonomie broodnodig het nie?,” is van die vrae wat gevra word.

Vrese is ook uitgespreek dat instellings in terme vir transformasie-doelwitte en ’n kwotastelsel gedwing sal word om al hoe meer studente in te neem wat nie akademies die mas kan opkom nie, terwyl verdienstelike studente weggewys sal word.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die wetsontwerp, soos die meeste wetgewing wat deesdae voor die parlement dien, maak voorsiening daarvoor dat al meer mag in die hande van die betrokke minister sentreer en al minder by die burgerlike instellings en breë publiek. “So word die skeidslyne tussen staat en party ook al meer vaag.”

Volgens Bailey is die implikasies van die aanvaarding van die wet meer ontstellend, omdat dit die uiters belangrike beginsel van akademiese vryheid ondermyn.  “Onderwysinstellings, veral op tersiêre vlak, kan nie aan owerhede en ideologie onderdanig wees, en steeds nog die beginsels van onafhanklike, objektiewe denke en uitnemendheid handhaaf nie.

“Universiteite voer al lank die stryd om te midde van politieke druk en staatsgesubsidieerde begrotings onafhanklikheid te handhaaf.  AfriForum beskou die aanvalle van die kant van universiteitsbesture teen Afrikaans as ʼn verskynsel wat dikwels met die politieke gedienstigheid verband hou.  Hierdie wetsontwerp maak voorsiening vir nog strenger sensuur deur middel van subsidiëring.

“In plaas daarvan dat meer voorsiening gemaak word vir kompeterende vergoedingspakkette vir die lok van uitnemende dosente na die tersiêre onderrigsektor, beursskemas vir die behoud van die beste studente in die land en moedertaalonderrig in plaas van eentalige Engelse onderrig, word op transformasie gefokus.

“Sosiale rasmanipulasie dien geensins daartoe om enige Suid-Afrikaner te bemagtig nie, dit lei bloot tot verdere raspolarisasie en dat Suid-Afrikaanse talent van alle rasgroepe vir wie meriete van belang is, toenemend hulle studies en loopbane in die buiteland vestig.”

Bailey het gesê AfriForum hou die wetsontwerp fyn dop.  “Ons sal ʼn regsmening kry oor dit wat uiteindelik aanvaar word, en as dit strydig met die grondwet is, dit met regsaksie teenstaan.”

 

Soortgelyke plasings