|

Minister Mthetwa se standbeeld-voorstelle kan volksmoordkultuur aanhits

Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, het Dinsdag in sy departement se begrotingsdebat in die parlement gesê die land gaan nie meer kuns van voorstanders van apartheid in openbare ruimtes duld nie.

Hy het verwys na die huidige “erfenis-landskap” van die land, wat standbeelde insluit, en het gesê die departement sal verseker dat “figure” wat openbare areas beset vir die  meerderheid mense in die land aanvaarbaar is.

“Op die oomblik beskerm wetgewing standbeelde en verhoed dit die verwydering daarvan. Openbare konsultasie oor standbeeld moet ingevolge wetgewing eers plaasvind,” het Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, verduidelik.

“Die departement wil wel die wetgewing van die staat se kant af verander, wat ʼn lang proses kan wees, afgangend van hoe hard die minister die verandering dryf en hoe hard die parlement dit steun.”

Bailey meen die minister se toespraak is ter voorbereiding om die wetgewing rakende standbeelde te verander. Sy dien op die ministeriële transformasie-erfeniskomitee en volgens haar is die opsies op die tafel tans:

  1. Die beelde kan bly waar dit is op voorwaarde dat die departement van kuns en kultuur byskrifte kan byvoeg wat die geskiedenis van die beeld figuur verduidelik. (Die dilemma hiermee is dat ’n onvolledige of bevooroordeelde weergawe gegee kan word.)

 

  1. Die beelde kan verwyder en gestoor word. (Kommer hieroor is dat die beelde mettertyd gevandaliseer kan word of selfs verdwyn terwyl baie daarvan waardevol is. ’n Anton van Wouw-werk is nie net ’n beeld nie, maar ook ’n kunswerk met geldwaarde.)

 

  1. Die beelde kan verskuif word na sogenaamde “temaparke” soos in Rusland gedoen is. (Dit kan daartoe lei dat beelde se status nog verder verlaag word. Dit kan lei tot ’n stigma van kriminalisering wat die aanloop tot ’n volksmoordkultuur kan wees.)

Volgens Bailey kan die regering se uitgangspunt met laasgenoemde voorstel wees dat “alle skurke van die verlede nou saam is.” Daar kan dan selfs van Afrikaners verwag word om te moet betaal om toegang tot hul erfenis te kry.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, verwys dikwels na die voorgestelde temaparke as niks anders as staatskonsentrasiekampe vir Afrikanerbeelde. “Dit kom neer op kulturele vandalisme.”

Bailey het gesê AfriForum se standpunt is dat standbeelde moet bly waar dit is en dat ’n ewewigtige uitbeelding van die geskiedenis gegee moet word. Deur weg te doen met beelde wat byvoorbeeld vir Afrikaners van kulturele en ander belang is, is om bepalings in die grondwet te misken wat wel ruimte vir minderhede bied.

Cecilia Kruger, hoofkunsbewaarder by die Voortrekkermonument, het aan Forum Nuus gesê die verwydering en storing van beelde moenie ʼn opsie wees nie. “Die beelde verloor dan hul waarde, enige moontlikheid van interpretasie daarvan is dan moontlik en die beelde word niks anders as kunsvoorwerpe nie.”

Sy het voorts gesê dat ʼn temapark nie ʼn slegte opsie is nie, maar dat die interpretasie en finansiële aspekte wat daaraan gekoppel word, problematies is.

“Die beste opsie sal wees om hulle te behou met byskrifte, maar dan moet regverdige konsultasie met alle belangegroepe plaasvind om onsinnige vergelykings en stories te vermy.”

Kruger was deel van ʼn paneel wat onder Mthethwa se toesig verantwoordelik was vir die interpretasie van beeldhouwerke in KwaZulu-Natal. Volgens haar het die paneel bestaan uit historici, akademici asook lede van die Zoeloe-gemeenskap. “Omdat mense uit verskillende agtergronde en relevante professies saamgewerk het, kon ons saam die beste besluite rondom die beelde neem en die mees gepaste interpretasies maak.”

Mthethwa het ook in sy toespraak gesê dat daar seker gemaak gaan word dat die “ware storie oor Suid-Afrika” vertel word en dat die departement kennis neem van beelde wat belangrik is soos Paul Kruger en die Vrouemonument. Hy het egter bygevoeg dat al die beelde nie behou kan word nie.

Soortgelyke plasings