|

2 ton teer sorg vir nóg veiliger pad in Wingate Park Country Club

AfriForum se Moreletapark-tak het die afgelope paar dae hom weer daarop toegespits om plaaslike sakeondernemings by te staan wat deurlopend poog om Pretoria-Oos te verbeter. Die tak het Vrydag (26 April) die tweede fase van sy volhoubaarheidsprojek by die Wingate Park Country Club afgeskop. Dit kom sowat twee maande nadat die tak onderneem het om dié gholfklub te help om sy pad in stand te hou sodat gemeenskapslede die klub met gemak kan besoek.

Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Noord-streek, sê die Moreletapark-tak het in sy tweede fase van dié projek al die slaggate in die gholfklub herstel. Dit het nagenoeg 2 ton teer geverg om hierdie pad weer glad te maak.

“Dit is belangrik om privaat ruimtes wat vir ontspanning gebruik word, in stand te hou sodat almal daarvan gebruik kan maak, veral omdat openbare ruimtes wat onder die bestuur van munisipaliteite is nie altyd veilig is of goed onderhou word nie,” sê Steinberg.

Die eerste fase van hierdie volhoubaarheidsprojek is in Februarie afgehandel. Die tak het destyds altesaam 800 m se lyne op die teerpad geverf. Drie spoedhobbels en die padmerkers by twee stopstrate is ook oorgeverf.

“AfriForum se Moreletapark-tak bly daartoe verbind om plaaslike sakeondernemings en privaat ontspanningsfasiliteite op allerlei maniere te ondersteun om die vooruitgang van die gemeenskap te bewerkstellig,” sluit Steinberg af.

Raak vandag nog by AfriForum se Moreletapark-tak betrokke. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings