|

Bothaville-gemeenskap leer oor wapenhantering

Die AfriForum-buurtwag in Bothaville het op 28 Februarie ’n inligtingsaand vir die gemeenskap gehou waartydens hulle geleer het oor wapenhantering. Die spreker was Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder en die tema was “Skiet ek of vlug ek? Wat bepaal die wet?”.

Die geleentheid is deur 71 mense bygewoon en Kamfer het die praatjie op ’n interaktiewe wyse aangebied. Almal teenwoordig was dit eens dat elkeen iets geleer het. Dit is vir hierdie buurtwag in Bothaville baie belangrik dat patrolleerders goed opgelei is en dat die gemeenskap goed ingelig is.

Daar was pryse op die spel. Louise Kotze het ’n nagsigapparaat gewen wat Dave Sheer Platteland geborg het. Mugg & Bean het vier geskenkbewyse geborg wat Cas Badenhorst, Peet de Klerk, André Bezuidenhout en Joost Theron gewen het.

Die Bothaville-buurtwag doen baie goeie werk in die gemeenskap en was al betrokke by talle arrestasies, veral dié van kabeldiewe. Die buurtwag werk ook baie nou saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens en plaaslike sekuriteitsmaatskappye.

“Ek is baie trots op die puik werk wat hierdie buurtwag op hulle stil manier doen. Dit is egter vir my onregverdig dat ’n handjievol gewillige mense die hele Bothaville moet help veilig hou. Ek wil graag ’n beroep op elke inwoner van ons dorp doen om betrokke te raak by AfriForum se Bothaville-buurtwag. As jy nie kan patrollie ry nie, is daar wel ander maniere waarop jy kan betrokke raak. Baie dankie aan Dolf Meyer en sy span wat die reёlings van hierdie suksesvolle inligtingsaand getref het,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder in die Mooirivier-streek.

Dolf Meyer, leier van die AfriForum-buurtwag in Bothaville, bedank die gemeenskap vir hul moeite om die aand by te woon, asook elke patrolleerder wat elke aand op hulle poste is.

Raak by Bothaville se AfriForum-buurtwag betrokke en help om jou omgewing veilig te hou. Kontak vir Deon van Dyk by 084 588 5261 om aan te sluit.

Soortgelyke plasings