2023: Die jaar van doen

Die nuwe jaar het aangebreek en soos elke jaar het elkeen van ons ’n lys voornemens wat ons graag dié jaar wil bereik. Wanneer ek aan my sukseskoers met die vorige jare se nuwejaarsvoornemens terugdink, besef ek dat ek iets drasties anders gaan moet doen om myself aanspreeklik te hou vir dít wat ek in 2023 wil bereik en so aan almal om my verkondig. Praat is maklik, maar om dit wat jy jouself en ander belowe deur te voer nie noodwendig nie.

Ons leef in ’n interessante tyd. Ons leef in ’n tyd waarin jongmense hul sukses en waardigheid meet aan die getal sosialemediavolgers; ’n tyd waarin dit vir een of ander rede nog aanvaarbaar is om op 25 nog by jou ouers te woon.

Wanneer gaan ons jeug werklik besef wat dit beteken om verantwoordelikheid vir hul eie toekoms te neem en daarmee saam aanspreeklikheid te aanvaar vir hul aksies en die impak wat dit op hul toekoms kan hê?

Ons leef in ’n tyd waarin jongmense as volwassenes hanteer wil word, hoewel baie min van hul gedrag en besluite dit regverdig. Ons leef in ’n tyd waarin die jeug verkies om beïnvloeders op sosiale media te word om ’n inkomste te verdien eerder as om in organisasies geslyp te word – of eerder as om in ’n werkplek voor moeilike omstandighede, konflik en teleurstelling te staan te kom sodat hulle uiteindelik sterk leiers kan word wat weer ’n toekoms vir ander kan help skep.  

Terselfdertyd kry ons ook elke nou en dan te doen met jongmense wat van hoop en toewyding straal, wat ruggraat het en verantwoordelikheid vir hul eie toekoms neem. Jongmense wat kies om na die geleenthede in ’n land soos Suid-Afrika te kyk en te fokus op dit waaroor hul beheer kan uitoefen. Jongmense wat bereid is om hulself, vir die beswil van iemand anders, tweede te stel; wat glo dat daar meer in hierdie lewe is as die hoeveelheid “likes” wat jy op sosialemediaplatforms kry. Jongmense wat besef dat hul toekoms moontlik duister mag lyk as hulle nie eienaarskap van hul eie toekoms neem nie, en dat dit net hul eie skuld sal wees. Jongmense wat lewe spreek en ander besiel deur hul bereidwilligheid om daad by die woord te voeg en op te staan vir dit wat reg is. Hierdie jongmense is mense wat in ons moderne tyd uitstaan juis omdat hulle op hierdie stadium die uitsondering is.

Met drie weke van 2023 wat reeds verby is, besef ek dat ek baie vinnig daad by die woord sal moet begin voeg, anders gaan hierdie weer eens net ’n jaar van praat wees met oppervlakkige doelwitte. Daarom is my hoofdoelwit vir 2023 om dit ’n jaar van doen te maak: Minder praat en meer doen. Minder kla oor dinge waaroor ek nie beheer het nie, en meer doen omdat ons jeug jong leiers benodig wat die waarheid praat en daad by die woord voeg.

Medejongmens, ek daag jou uit om hierdie jaar deel te word van dié wat hoop spreek en eienaarskap van hul eie toekoms neem. Dié wat bereid is om vir dit wat reg is op te staan en ’n stem te wees vir diegene wat hul stem nog nie behoorlik gevind het nie. Luister na jong leiers soos Magé Troskie: Lig jou ken en ken jou Lig!

Wees opreg, energiek, passievol en optimisties. Wees die uitsondering!

Ronald Peters

Bestuurder: AfriForum Jeug

Soortgelyke plasings