|

210 slaggate vat die pad ná Thabazimbi-tak ingryp

AfriForum se Thabazimbi-tak het verlede week in samewerking met die plaaslike organisasie Spitskop Landelike Veiligheid ’n groot impak op die gemeenskap gemaak deur altesaam 210 slaggate op Spitskopweg te herstel. Meer as drie ton teer is gebruik om al die slaggate op te vul. Die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit kon nie bekostig om hierdie hele padoppervlak te herstel nie, maar het instede hand by gesit deur die mannekrag te voorsien wat nodig was om hierdie enorme taak te pak.

Beide motoriste en voetgangers is al geruime tyd bekommerd oor die verslegtende toestand van die pad, aangesien dit ’n ernstige veiligheidsrisiko vir al die padgebruikers inhou. Die Thabazimbi-tak en sy vennoot het egter vinnig werk daarvan gemaak om binne die spasie van ’n week al die herstelwerk te voltooi.

“Die samewerking wat nodig was om die slaggate te herstel, is ’n sprekende voorbeeld van wat gebeur wanneer die gemeenskap aktief betrokke raak om probleme in ’n gebied op te los. Dit is een van die positiewe verandering wat teweeg gebring kan word wanneer verskillende sektore van die samelewing saamkom vir ’n kollektiewe doel,” sê Hendrik Kotze, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo.

“Die Thabazimbi-tak sal voortgaan om die gemeenskap te help waar ook al moontlik. Dié dorp gaan nie verder gebuk gaan onder die verval nie,” voeg Kotze by.

AfriForum se Thabazimbi-tak het elke inwoner se inkoop nodig om ’n daadwerklike verskil in die gebied te maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings