|

Oos-Kaap-buurtwagte ontvang vuurwapenopleiding

AfriForum se buurtwagte in die Oos-Kaap het op 20 en 27 Mei verskeie modules in die gebruik van basiese handwapens voltooi. Lede van die Jeffreysbaai-buurtwag, asook lede van die Walker Drive- en Broadwood-buurtwagte in Port Elizabeth het aan die opleiding deelgeneem.

Die doel van die opleiding is om die bevoegdheid van AfriForum se patrolleerders deurgaans te verbeter. Dit verseker ook dat die buurtwaglede volgens die wet kan optree wanneer hulle help om gemeenskappe te beveilig. Hierdie tipe opleiding vind deur die loop van die jaar op verskeie terreine plaas.

“Ons is dankbaar dat ons hierdie geleentheid kon gebruik om die vaardighede aan ons buurtwaglede oor te dra. Hierdie kursus help die lede om paraat te bly en dien ook as ’n goeie spanbou-aktiwiteit. Ons moedig ons strukture aan om as ’n groep saam te werk om potensiële situasies ​​te hanteer,” sê Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

“Die opleiding was baie leersaam. Dit is belangrik dat ons met die nodige opleiding bemagtig word sodat die veiligheid in ons gemeenskappe binne die raamwerk van die wet bevorder word,” sê Hannes Oosthuizen, leier van die Walker Drive-buurtwag in Port Elizabeth.

Die takke moedig die gemeenskap aan om by hul plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke te raak om ’n daadwerklike verskil te maak. Klik hier om aan te sluit.

Soortgelyke plasings