|

AfriForum se Hessequa-tak bied veiligheidsaand en sakeontbyt aan

AfriForum se Hessequa-tak het op 10 en 11 Maart 2022 ’n veiligheidsaand en sakeontbyt aangebied. Toekennings vir uitnemendheid en onbaatsugtige en volgehoue diens is ook dié aand aan die Riversdal-gemeenskap en Albertinia-buurtwag oorhandig.

Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-riskiobestuurder, het inwoners meer vertel oor vuurwapenwetgewing, asook die basiese kennis en wetgewing wat met noodweer gepaardgaan. “As jy jouself kan beveilig, kan jy jou familie beveilig. As families mekaar begin beveilig, gaan ’n gemeenskap mekaar beveilig en dit is hoe weerbaarheid in ’n onmiddellike area ontstaan,” het Kamfer tydens sy praatjie gesê.

Raymond Hohls, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid, het inwoners toegespreek oor veiligheid, belangrike statistieke en hoe om uiteindelik ’n netwerk te skep om veilig te wees in die omgewing waarin jy woon.

David Olivier, distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, Hohls en Mark Kuys, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die suidstreek, het die toekennings ná die praatjies oorhandig.

Ernst Roets, AfriForum se hoof vir beleid en aksie, het op 11 Maart, tydens die sakeontbyt vertel waarmee AfriForum tans besig is, asook oor van die hofsake waarby die organisasie betrokke is. Roets het verder oor vryheid gesels en uitgebrei oor hoe daar oor vryheid gedink word en waarom vryheid belangrik is.

“Die Hessequa-tak wil graag die AfriForum-bestuur, asook die gemeenskap wat die geleentheid bygewoon het, bedank. Baie dankie ook aan die Riversdal Skougronde en Dickson’s Bistro wat die saal en restaurant beskikbaar gestel het vir hierdie geleentheid,” sê Johan Crous, voorsitter van AfriForum se Hessequa-tak.

Sluit vandag nog by AfriForum se veiligheidstrukture aan: SMS “Buurtwag” na 45350 (R1) en word deel van die verskil.

Soortgelyke plasings