|

AfriForum-buurtwag in Hartbeesfontein arresteer verdagtes

Die AfriForum-buurtwag in Hartbeesfontein het op 22 Januarie, twee verdagtes aangekeer en die SAPD bygestaan om ’n derde te arresteer. Die buurtwaglede het vier verdagte persone opgemerk waarna ’n inwoner hulle om hulp gevra omdat hy pas deur vier jong mans met messe beroof is. Die buurtwaglede het dadelik die hulp van die ander buurtwaglede gevra om die verdagtes aan te keer. 

Die verdagtes het in verskillende rigtings gevlug met die aankoms van die buurtwagvoertuie. Intussen het nog drie buurtwagvoertuie aangekom en een verdagte is vasgetrek waar hy stadig in die pad afgestap het en deur die SAPD gearresteer. Met behulp van ’n lid van die gemeenskap is nog ’n verdagte gekry waar hy in ’n kroeg weggekruip het en hy is ook deur die SAPD gearresteer. Intussen het buurtwaglede die derde verdagte gekry en na die polisiekantoor geneem waar die klaer reeds besig was om ’n saak van gewapende roof te open. Die vierde verdagte is nog nie opgespoor nie. 

“Baie dankie vir hierdie goeie samewerking. Dit is so noodsaaklik dat die veiligheidsinstansies met mekaar moet saamwerk. Ons het almal dieselfde doelwit en sal misdaad slegs kan hokslaan deur hande te vat en saam te werk,” sê Frans Roos, die takvoorsitter van die AfriForum-tak in Klerksdorp.

“Hierdie arrestasies is ’n toonbeeld daarvan dat samewerking in gemeenskappe uiters noodsaaklik is. Hier sien ons hoe samewerking van die buurtwag, gemeenskap en die SAPD gelei het tot suksesvolle arrestasies. Ek is trots op hierdie buurtwag wat baie goeie werk in hulle gemeenskap verrig,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die buurtwag nooi inwoners uit om betrokke te raak en so saam te werk om ‘n veilige omgewing te skep. Vir meer inligting om betrokke te raak kan Theresa Swart by 066 207 2525 gekontak word.

Word deel van die oplossing: SMS Klerksdorp na 45344 (R1)

Soortgelyke plasings