|

AfriForum: Menseregtekommissie se optrede eensydig teenoor minderhede

Die burgerregte-organisasie AfriForum het gister die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) in ’n ope brief versoek om terugvoer te gee oor al die sake waarby die SAMRK op eie inisiatief betrokke geraak het, asook die vordering met daardie sake se ondersoeke.

Hulle het verder ook ’n opsommende verslag versoek van al die klagtes wat die SAMRK ontvang het wat handel oor sake van haatspraak en aanhitsing tot moord op rassegrondslag.

Dit volg nadat AfriForum op 31 Julie 2015 ’n skrywe aan die SAMRK gerig het omdat dit vir die burgerregte-organisasie voorgekom het asof die menseregtekommissie selektief is in die sake waarby hulle uit eie oorweging betrokke raak.

In die brief verduidelik Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, dat die burgerregte-organisasie geen beswaar teen die SAMRK het rakende hul betrokkenheid by sake waar wit Suid-Afrikaners beledigende stellings op sosiale media teen swart Suid-Afrikaners geplaas het nie.

Maar volgens Roets is die feit dat AfriForum tot op hede steeds nie bewus is nie van enige geval waar die SAMRK uit eie oorweging ondersoek ingestel het na gevalle waar swart Suid-Afrikaners die aanhitsing tot moord op wit Suid-Afrikaners op sosiale media aanblaas nie, uiters onrusbarend.

Die SAMRK is onlangs deur die media gevra waarom daar geen ondersoek gedoen is na die rassistiese uitlatings van ene Palesa Sotjifa op sosiale media nie. Sy het verlede jaar verskeie rassistiese uitlatings getwiet onder meer dat “die EFF 500 wit mense vir ons moet doodmaak”.

Die VF Plus het ook vandeesmaand versoek dat die SAMRK antwoorde aan die party moet verskaf oor waarom hy nagelaat het om klagte van moontlike rassisme teen Sotjifa te ondersoek.

Die SAMRK het op medianavrae geantwoord dat die kommissie geen saak teen Sotjifa ondersoek nie aangesien niemand ’n klag teen haar ingedien het nie. Hul het ook nie gereageer op die vraag of Sotjifa se uitlatings as haatspraak of as aanhitsing tot geweld beskou kan word nie.

Sy het intussen om verskoning gevra vir dié uitlatings.

“Op grond van hierdie waarneming, wat op mediaberigte gebaseer is, kan ons nie anders as om tot die gevolgtrekking te kom nie dat die SAMRK steeds met selektiewe vervolging besig is nie, ongeag vroeëre versekering aan AfriForum dat dit nie die geval is nie,” meen Roets.

Hy het verder kommer uitgespreek oor die SAMRK se hantering van ʼn klag teen Steve Naale, woordvoerder van die Ngwathe-munisipaliteit in die Vrystaat, nadat hy ʼn foto van twee mense wat deur die Ku Klux Klan (KKK) in Amerika opgehang is, op dié munisipaliteit se Facebook-blad geplaas en daarby geskryf het: “Tensy ons dit weer onder ʼn wit man se regering wil hê.”

Luidens mediaberigte het Naale sy stelling gemaak in antwoord op aanvalle op die land se demokratiese stelsel. Die SAMRK het bevind dat Naale teen wit mense gediskrimineer het en hul menslikheid en waardigheid geskend het. Daar is aanbeveel dat Naale en die individue wat die voorval aangemeld het, ʼn menseregteprogram oor rasseverhoudings bywoon.

Dié klag is in Februarie by die SAMRK ingedien.

Volgens Roets is hierdie voorval is ʼn voorbeeld van die SAMRK se dubbele standaarde.

Soortgelyke plasings