|

AfriForum ondersoek nuut geverfde pad tussen Kroonstad en Bothaville

Die burgerregte-organisasie AfriForum gaan ondersoek instel nadat dit onder sy aandag gekom het dat die R727 tussen Kroonstad en Bothaville se strepe onlangs oorgeverf is, terwyl die pad in ’n haglike toestand is.

Luidens mediaberigte loop dié nuut geverfde strepe deur talle slaggate op die gehawende pad, wat op sekere plekke byna soos grondpad lyk.

Deon Honibal, ʼn kontrakteur van City Markings Construction, wat vandeesweek begin het met dié projek, het aan Forum Nuus gesê dat die strepe geverf is om die pad tydelik veiliger te maak totdat dit oorgeteer word in September.

“Ons is vir hierdie projek deur die Vrystaatse departement van paaie, polisie en vervoer aangestel om die pad se strepe oor te verf sodat die lyne snags meer sigbaar is vir motoriste. Dit is ʼn tydelike voorsorgmaatreël om die pad veiliger te maak totdat ons dit later sal begin oorteer.”

Volgens Lambert de Klerk, koördineer by AfriForum, mors die departement van paaie, polisie en vervoer belastingbetalers se geld met só projek. Hy is van die mening dat slaggate ʼn groter veiligheidsrisiko op paaie is en sê dit moet prioriteit geniet bo strepe.

“Dit is nie prakties om strepe op ʼn pad te verf drie maande voordat dieselfde pad oorgeteer gaan word nie. AfriForum bevraagteken die Vrystaatse departement van paaie, polisie en vervoer se planne met hierdie projek.”

Indien inwoners enige verdere inligting oor die projek het, stuur ʼn epos aan Lambert de Klerk by lambert@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings