|

Moenie dink SA kan nie Zimbabwe-pad loop rondom grondbesettings

Ben Freeth, ’n boer van Zimbabwe en skrywer van die boek Mugabe en die wit Afrikaan, het vandag gewaarsku dat Suid-Afrikaners nie te gerus moet wees dat die land nie dieselfde pad as Zimbabwe kan loop wat grondhervorming betref nie.

Hy het op ’n nuuskonferensie van AfriForum en Afrisake gesê as Suid-Afrikaners nie opstaan vir die Grondwet en die beginsels van ’n regstaat nie, kan dinge verkeerd loop soos in Zimbabwe waar boere hul grond, besittings en selfs lewens verloor het in Mugabe se grondgrypeprosesse.

Freeth meen egter dat Suid-Afrika ’n paar faktore in sy guns het soos sterk opposisiepartye, ’n parlement wat redelik funksioneer en ’n stedelike bevolking wat kan opstaan sou die ANC wil voortgaan om grondwetlike veranderinge te maak wat op menseregteskendings neerkom.

Freeth het die belangrikheid van gemeenskappe wat in reg en geregtigheid glo beklemtoon en gesê mense moenie ophou om hiervoor op te staan nie.

AfriForum het ’n blitsgids-handleiding oor grondbesetting bekend gestel om gemeenskappe in te lig oor wat hul te doen staan om hul eiendom te beskerm. Die organisasie het beklemtoon dat gemeenskappe nie op die staat moet wag om hul eiendom te beskerm.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het gesê daar is al hoe meer aggressiewe en militante ondertone in die uitlatings en stellings wat politici en ook die regering oor grondhervorming maak. “Dit het ’n emosionele, rasgedrewe kwessie geword, terwyl die werklike feite rondom grondbesit verdraai word. Wit mense word as die vyand voorgehou wat die grond gesteel het en verantwoordelik is vir alles wat verkeerd is.”

Hy het gesê gemeenskappe moet bemagtig word om nie vir hierdie leuens te val nie en voortgaan om hulself en hul grond te beskerm. “Grondeienaars het regte. Hulle kan hul eiendom beskerm deur regsaksies in te stel waar grond beset word en moet ook proaktief optree om besetting te verhoed. Waar strukture onwettig opgerig word en besetters onversteurde verblyf geniet, moet ’n siviele saak gemaak word. In die geval waar besetters kennis dra dat hulle onwettig grond betree, kan strukture afgebreek word mits ’n betredingsaak by die polisie aanhangig gemaak is. Die polisie moet te alle tye ooreenkomstig die betredingswet optree,” het Cameron gesê.

Cameron het voorts gesê dat die staat met regsoptrede tot verantwoording geroep kan word, maar dat gemeenskappe self hul eiendom met plaaslike veiligheidsinisiatiewe soos buurtwag- en plaaswagstelsels moet beskerm.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het die politieke klimaat geskets waarbinne grondhervormingsgesprekke tans in die land plaasvind. Hy het verwys na politici soos pres. Jacob Zuma en Julius Malema wat al by geleentheid gesê het dat hulle geïnspireer is deur pres. Robert Mugabe van Zimbabwe se grondhervormingsbeleid en hoe grondgrype daar afgeloop het. “Die ANC se strategie is om alle staatsmeganisme te gebruik om sy nasionaal demokratiese revolusie (NDR) uit te voer. Grondhervorming en eienaarskap wat ook hiervoor gebruik. Die ANC begin gewoonlik oor restitusie praat en eindig by herverdeling.”

Roets het gesê die regering gee ook graag verkeerdelik voor dat die meerderheid van Suid-Afrikaners grond wil besit. In meningsopnames wat al gedoen is, het minder as 1% van die land se mense gedink grondhervorming sal hul lewens verbeter. In nog ’n studie is bevind 7% van minder as 1% van swart mense wil grond hê. Hulle stel so min daarin belang dat Zuma vanjaar in sy Staatsrede ’n beroep op diegene wat vir grond in aanmerking kom gedoen het om te sê dat hulle eerder grond as geld wil hê, het Roets gesê.

Armand Greyling, AfriSake se regs- en beleidsanalis, het gesê sonder die beskerming van eiendomsreg, is die ekonomie gedoem. “Onwettige besetting en toe-eiening van grond, asook politieke aanslae op die Grondwet, raak al hoe meer algemeen.

“Om die rede is daar onlangs ’n interdik teen Malema en die EFF gekry om hulle te verbied om voort te gaan om mense aan te hits om grond onwettig te beset.”

Bestudeer die blitsgids hier: https://afriforum.co.za/wp-content/uploads/Grondgrype-Blitsgids-oor-grondbessetting-vir-grondeienaars.pdf

 

 

 

Soortgelyke plasings