|

Kyk (Video): Derby-Lewis oor gevangenisstraf, sluipmoordpogings en die stryd om mediese parool

“Ek het nooit bedreig gevoel of vir my lewe gevrees in die tronk nie.”

Só verduidelik Clive Derby-Lewis, veroordeelde moordenaar, sy 22 jaar in gevangenis weens sy aandeel in die sluipmoord op Chris Hani, SAKP-leier, in die derde aflewering van die Derby-Lewis Disclosure-onderhoud met Ernst Roets, uitvoerende hoof van Forum Films.

Dié videovervaardigingsmaatskappy het vandag die derde deel van hul eksklusiewe onderhoud met Derby-Lewis op hul webtuiste gepubliseer.

Dié onderhoud, wat op 2 September 2016 verfilm is, is die enigste onderhoud wat Derby-Lewis sedert sy vrylating op mediese parool in Junie 2015 toegestaan het.
Hierin drie vertel hy van sy tyd in die gevangenis, sluipmoordpogings op sy lewe en die stryd om mediese parool.

“Ek was opgesluit met ongeveer 300 van die land se gevaarlikste kriminele, maar het nooit vir my lewe gevrees nie.”

Hy vertel dat hy tydens sy 22 jaar in die tronk vasbeslote was om gevangenes se omstandighede te verbeter en het onder andere etnologie as vak aangebied, sokkertoernooie georganiseer en gevangenes van produkte soos tandepasta voorsien.

“Die gevangenes het daarop aangedring dat ek etnologie aanbied. Volgens hulle was ek die enigste wit man wat enigiets oor swart mense geweet het.”
Oor die twee aanslae op sy lewe sê hy dat dit ongetwyfeld polities gemotiveerd was. Hy is die eerste keer met ʼn skeplepel aangerand en die tweede keer met glas in die rug gesteek. Die glas het ook een van sy longe deurboor.

Hy vertel ook van sy stryd rondom mediese parool, waarvoor hy vier keer moes aansoek doen voor sy vrylating in 2015.

Roets verduidelik dat dié onderhoud oorspronklik verfilm is met die idee om ’n dokumentêr oor die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) te vervaardig.
Ná Derby-Lewis se dood op 3 November 2016 het Forum Films egter besluit om eerder die volledige onderhoud te publiseer.

“Dit is belangrik dat die stellings wat Derby-Lewis in die onderhoud maak, gepubliseer word sodat dit in die geskiedenis opgeteken kan word,” sê Roets.
Volgens Roets was dit Derby-Lewis se wens dat die onderhoud ná sy dood gepubliseer word.

Die finale deel volg môre.

Soortgelyke plasings