|

Gids bekend gestel om welsynskrisis te pak

Solidariteit Helpende Hand het onlangs ʼn hulpgids bekend gestel om maatskaplike werkers, welsynsorganisasies, vrywilligers en gemeenskappe toe te rus met basiese kennis oor die land se maatskaplike sake.

Die Maatskaplike Hulp Handleiding sluit wette en ander noodsaaklike inligting oor onder meer die beskerming van kinders, kinderregte, SASSA-toelaes, gesinsgeweld en alkohol- en dwelmmisbruik in.

Die maatskaplike bedryf het tans verskeie uitdagings, waaronder die grootste ʼn tekort aan sowat 52 000 gekwalifiseerde maatskaplike werkers is. Riaan du Plooy, adjunk uitvoerende hoof van nasionale strukture by Solidariteit Helpende Hand, het tydens die bekenstelling van dié gids gesê dat dit tyd is dat niewinsgewende en welsynsorganisasies hande moet vat om dié soort maatskaplike uitdagings die hoof te bied.

“Deur leierskap en samewerking kan ons oplossings vind vir die land se probleme. Ons wil hoop uit desperaatheid skep,” het hy gesê.

Verskeie kenners en rolspelers waaronder Marieta Kemp, direkteur van die Suid-Afrikaanse Vroue-Federasie, DA-LP Gordon Mackay en Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het tydens die bekendstelling voorleggings gedoen. Hulle het onder meer gewys op die uitdagings van die maatskaplike beroep, die bemagtiging van slagoffers op grondvlak en die rol van niewinsgewende organisasies.

Volgens Kemp is daar veral ʼn tekort aan Afrikaanse maatskaplike werkers.

Isabel Faurie, ʼn maatskaplike werker by Solidariteit Helpende Hand, het ook tydens die bekendstelling verduidelik dat dié dokument nie professionele ingryping of kliniese hulp van maatskaplike kundiges vervang nie, maar eerder fokus op die onkunde wat daar oor beskikbare maatskaplike hulpbronne is.

Faurie, wat ʼn groot rol gespeel het met die opstel van die gids, verduidelik dat dit ʼn basiese beginpunt is vir verbruikers om die regte prosesse te volg wanneer hul maatskaplike kwessies aanpak.

Die gids is elektronies beskikbaar. Besoek www.helpendehand.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings