|

Malema kan vervolging vryspring as nuwe Wet dit uitskakel

Julius Malema, omstrede leier van die EFF, kan moontlike vervolging ingevolge die Wet op Oproerige Byeenkomste vryspring indien ʼn nuwe Wet die vervolgingsproses uitskakel.

Só meen prof. Marinus Wiechers, grondwetkenner en voormalige rektor van Unisa, nadat die EFF gister ʼn mosie by die parlement ingedien het dat die Wet op Oproerige Byeenkomste herroep moet word omdat dit “een van vele ‘apartheidswette’ op die Suid-Afrikaanse wetboeke is wat dringend herroep moet word”.

Floyd Shivambu, EFF-LP, het gesê die Wet op Oproerige Byeenkomste is ʼn apartheidswet om “blankes teen nieblankes” te beskerm. Volgens die EFF het dié “apartheidswette” ten doel om segregasie en rassehaat aan te blaas en om swart mense te onderdruk.

Hul dring daarop aan dat die parlement ’n ad hoc-komitee aanstel om alle apartheidswette in die wetboeke te identifiseer met die doel om almal te herroep.

Volgens Wiechers is die regshersieningskommissie egter al vir jare lank besig om apartheidswette te hersien. Hy het aan Forum Nuus gesê dat alle wette wat blatante miskennings van menseregte was, soos die EFF meen dié Wet is, reeds afgeskaf is.

“Die vraag is nie of dit ʼn apartheidswet is nie. Die vraag is of daar enige bepalings is wat inbraak maak op ʼn persoon se menseregte.”

Wiechers sê voorts hoewel die kanse vir ʼn herroeping van dié Wet baie klein is, kan Malema vervolging ingevolge die Wet vryspring indien ʼn nuwe Wet die bestaande een se vervolging uitskakel.

Dié vrae het ontstaan nadat Malema vroeër vandeesmaand twee keer in die hof op klagtes van die oortreding van die Wet op Oproerige Byeenkomste verskyn het. Hy word daarvan aangekla dat hy die Wet oortree het toe hy EFF-lede in 2014 tydens die party se verkiesingskongres in Bloemfontein aangemoedig het om grond onwettig te beset.

Hy het vroeër in November op soortgelyke aanklagte in die landdroshof op Newcastle verskyn.

Sy prokureur, Tumi Mokwena, het tydens dié verhoor in Newcastle gevra dat die saak vir ses maande uitgestel moet word sodat sy regspan die aansoek om die Wet op Oproerige Byeenkomste ongrondwetlik te verklaar by die hooggeregshof kan indien.

Malema het op sy beurt in die hof gesê die EFF gaan witmense se vrede versteur.

“Wit mense is mos van die hemel. As jy aan ʼn wit mens raak, sal jy tronk toe gaan. Swart mense is onderworpe aan witmense en dien hulle net.”

Malema het gesê dat hy bereid is om tronk toe te gaan vir grond. Volgens hom is die land in die hande van koloniale meesters.

AfriForum se saak teen Malema is tot 5 Junie 2017 uitgestel.

Soortgelyke plasings