|

De Afrikander Handelshuis wil Afrikaans op moderne wyse uitbou

Kreatief, hoë gehalte, kultuur en natuurlik trots Afrikaans.

Dít is die vier pilare waarop De Afrikander Handelshuis (D.A.H), wat onlang sy deure amptelik by die Voortrekkermonument geopen het, geskoei is.

Dié unieke handelshuis se naam is afkomstig van die woorde wat Hendrik Biebouw in 1707 in Hollands uitbasuin het, naamlik “Ik ben een Afrikander” (Ek is ʼn Afrikander). Biebouw het dit na bewering gesê toe hy teen ’n magistraat opgestaan het wat hom wou verban. Hy het gesê dat hy sal bly net waar hy is want Suid-Afrika is die land van sy herkoms, hy is ʼn “Afrikander”.

Biebouw was die eerste persoon wat só na ’n inwoner van Suid-Afrika verwys het.

De Afrikander Handelshuis het reeds die afgelope drie jaar suksesvol ’n aanlynwinkel bedryf wat hoofsaaklik op T-hemde en bykomstighede met Afrikaans motiewe gefokus het. Dié handelsmerk se nuwe winkel vervang die geskenkwinkel wat voorheen op die Voortrekkermonument se terrein was en streef daarna om die grootste winkel van sy soort in Suid-Afrika wees.

Volgens Liza-Marie Oberholzer, mede-eienaar van De Afrikander, wil dié handelshuis die Afrikaanse kultuur en taal op ʼn moderne wyse uitbou. “Ons wil deur innoverende ontwerpe en produkte mense trots maak op hul herkoms. Hulle moet voel dis lekker om Afrikaans te wees.”

Die winkel bied ’n wye reeks produkte wat volgens Oberholzer ’n storie vertel van wie Suid-Afrikaners is en die Afrikanerkultuur op ’n unieke wyse uitbeeld. Produkte sluit onder meer Springbokleer-handsakke, T-hemde met onder andere Jan van Riebeeck en Paul Kruger se gesigte daarop, handgemaakte keramiek, Afrikaanse linne en breekware, tuisgemaakte konfyt, kunswerke en egte leerskoene in.

De Afrikander is ook onlangs as die onderneming met die Afrikaans-Vriendelikste sosiale mediablad bekroon tydens vanjaar se Tinteltong-toekennings. Die toekennings is ʼn inisiatief van die burgerregte-organisasie AfriForum se Afrikaans Vriendelik-veldtog.

Dié veldtog bevorder Afrikaans in die sakewêreld deur erkenning en gratis bemarking aan Afrikaanse ondernemings en diensverskaffers te gee. Volgens Oberholzer ondersteun hul Afrikaans Vriendelik omdat dit ʼn gerieflike eenstopplatform vir Afrikaanse ondernemings is. “So ’n platform en webtuiste is belangrik vir Afrikaans om relevant in die sakewêreld te bly.”

Volgens Charl Oberholzer, ook mede-eienaar van De Afrikander, is daar nie ʼn beter mededingende voordeel as om met mense sake in hul moedertaal te doen nie. “Wanneer jy met iemand in hul moedertaal praat, praat jy met hulle in die taal waarin hulle droom. Jy praat met hulle in hul hartstaal. “

Afrikaans Vriendelik gaan binnekort ʼn nuwe toep (App) bekend gestel. Besoek www.afrikaansvriendelik.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings