AfriForum en Solidariteit se geveg teen sportkwotas duur voort


AfriForum en Solidariteit het vandag hul volgende stap in die geveg teen onbehoorlike inmenging in Suid-Afrikaanse sport aangekondig. In die hofstukke, wat vandag beteken is, word die Suid-Afrikaanse Rugby Unie (SARU), Krieket Suid-Afrika (KSA), Atletiek Suid-Afrika (ASA) en Netbal Suid-Afrika (NSA) uitgedaag om hulle ooreengekome rassekwotas voor die arbeidshof te verdedig.
Volgens AfriForum en Solidariteit is die ooreengekome kwotas nie alleen teen die wet nie, maar druis dit in teen ooreengekome internasionale norme.

“Dit is skreiend dat die ANC sulke strawwe rassekwotas afdwing. Dit is egter nie verrassend nie. Vir die ANC is plaaslike rassewetgewing en internasionale ooreenkomste maar net lippetaal,” sê Johan Kruger, adjunkbestuurshoof van Solidariteit.

Volgens Kruger is die ANC se rasse-ideologie lankal reeds sigbaar en kan die party sy rasgedrewe motiewe nie meer verbloem nie.

“Die ANC se ontneming van uitnemende plaaslike sportmanne én vroue se geleenthede weens onwettige rassekwotas moet deur die hof veroordeel word. Ons vra dat die hof beveel dat die Transformasie Handves, in so verre dit demografiese profiele nastreef, ongeldig verklaar word. Ons versoek verder dat die hof beveel dat die ooreenkomste tussen die partye in so verre dit kwotas daarstel, ongeldig verklaar word en dat sportliggame verbied word om kwotas toe te pas met spankeuses op nasionale-, provinsiale, klub- en skoolvlak,” sê Kruger.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, moet meriete die enigste maatstaf in die samestelling van sportspanne wees.

“Die afdwing van rassekwotas en politieke inmenging in Suid-Afrikaanse sport druis direk in teen die reëls en regulasies van internasionale sportliggame. Daarom gaan AfriForum binne maande ’n afvaardiging na verskeie internasionale sportliggame stuur,” sê Kriel.

AfriForum se aansoek om as vriend van die hof (amicus curiae) in die huidige aansoek toegelaat te word, sal binne die afsienbare toekoms beteken word.

Soortgelyke plasings