Kempton Park-gemeenskap wys frustrasie met Ekurhuleni Munisipaliteit


Lede van die Kempton Park-gemeenskap het ’n memorandum oorhandig aan Motubatse Motubatse, hoof van stadsbeplanning by die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit, ná afloop van ’n vreedsame betoging voor die munisipale kantore op 26 September 2017. Dié betoging is in samewerking met AfriForum se Kempton Park-tak, die Edleen Proper Residents’ Association (EPRA) en die Kempton Park Gated Community gereël ná die gemeenskap se pleidooie oor swak dienslewering aan die munisipaliteit op dowe ore geval het.
Die memorandum eis onder meer dat:

  • aansoeke in terme van toegangsbeheerde areas ingevolge die Wet op die Rasionalisering van Plaaslike Regeringsake (wet no. 10 van 1998) aangehoor en goed- of afgekeur word;
  • die sloer in die verwerking van huidige aansoeke summier gestaak word; en
  • korrespondensie en kommunikasie tussen die munisipaliteit en openbare aandeelhouers as prioriteit geag word.

“Die gemeenskap dring daarop aan dat die munisipaliteit binne 30 dae terugvoer gee en sal voortgaan om druk op hulle te plaas ten einde te verseker dat munisipale take verrig word,” sê Rian van Jaarsveld, voorsitter van AfriForum se Kempton Park-tak.

Raak betrokke by AfriForum se Kempton Park-tak deur jou naam en van na 45342 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings