AfriForum toets water, herstel slaggate in Bethal


Die AfriForum-tak in Bethal het die afgelope week as deel van hul nasionale blou-en-groendruppelprojek water in dié dorp getoets, asook sowat 80 slaggate as deel van die tak se langtermynslaggatprojek herstel.
Die watertoetse dui aan dat die drinkwater veilig is. Water is onder meer by verskeie openbare geboue in die dorp getoets, asook by verskillende plekke langs die Blesbokspruit en die Bethal-dam.

“Ons kon vasstel dat Bethal se drinkwater skoon is en geen swaarmetale bevat nie, en dat bakterievlakke aan gestelde standaarde voldoen. AfriForum sal die watergehalte deurlopend toets om inwoners se grondwetlike regte te beskerm en te verseker dat hulle van skoon drinkwater voorsien word,” sê Ingrid Human, voorsitter van AfriForum se Bethal-tak.

Die burgerregte-organisasie het egter sy kommer uitgespreek omdat die rioolwater nie aan gestelde standaarde voldoen nie.

“Daar sal dringend aandag aan rioolaanlegte geskenk moet word. AfriForum beplan om so spoedig moontlik ondersoek in te stel en die nodige stappe daarna te neem,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mpumalanga-Wes.

AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek fokus op die stand van dorpe se drinkwater en rioolaanlegte. Dié projek fokus nie noodwendig op die toestand van die aanleg self nie, maar wel op die gehalte van die water wat ná die proses as eindproduk in die vorm van drinkwater (bloudruppel) en behandelde rioolwater (groendruppel) gelewer word.

“Ons versoek Bethal se inwoners om aan AfriForum die mandaat te gee om die watergehalte voortdurend te moniteer,” sê Theuns Langenhoven, die tak se omgewingsakevoorsitter.

Die tak het ook sowat 80 slaggate voor Silwerjare Tuiste vir Bejaardes in Du Plooystraat herstel.
Volgens Coetzer is slaggate ’n baie groot probleem in Bethal en val pleidooie aan die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit om dié ernstige probleem op te los op dowe ore.

“Dit benadruk die belangrikheid van AfriForum se onderskeie selfdoenprojekte. Gemeenskappe moet minder van die staat afhanklik word en meer selfonderhoudend wees,” sluit Coetzer af.

AfriForum beplan om nog talle soortgelyke projekte in dié dorp aan te pak en doen ’n beroep op inwoners om betrokke te raak:

  • Blou-en-groendruppelprojek: SMS “Bethal” na 45350 (R1) om dié aksie te ondersteun.
  • Slaggatprojek: Raak by die tak betrokke deur “Skoon” na 45350 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings