AfriForum gryp in met blou-en-groendruppelprojek om waterkrisis af te weer


AfriForum het gister sy blou-en-groendruppelprojek vir 2017 in Randfontein bekend gestel en is besig om spanne regoor die land te mobiliseer om die drink- en rioolwatergehalte in dorpe te toets waar daar aktiewe AfriForum-takke is.

“Dit is duidelik dat die regering nie ernstig is oor die gesondheid van die mense van Suid-Afrika nie omdat  vyf jaar al sedert die laaste amptelike Blou-en-Groendruppelverslag verloop het. Die ANC-regering probeer om hul onbevoegdheid weg te steek deur inligting van die publiek en selfs die parlement te weerhou. Gewone mense ly die meeste onder die waterkrisis, en omdat ons nie meer op die regering kan staatmaak nie, moet ons watergehalte self toets,” sê Chris Boshoff, omgewingsakekoördineerder by AfriForum.
“AfriForum het verlede jaar verseker dat sewe miljoen mense se drinkwatergehalte aan gestelde standaard voldoen deur toetse uit te voer wat deur die Universiteit van die Vrystaat ontwerp is. Besoedelde drinkwater kan mense ernstig siek maak. AfriForum sal sorg dat enige besoedeling so gou moontlik aangespreek word deur ’n aanmaning aan die betrokke munisipaliteit te stuur en te eis dat die probleem binne 48 uur reggestel word,” sê Marcus Pawson, hoof van omgewingsake by AfriForum.

Boshoff noem ook dat AfriForum bekommerd is oor die departement van water en sanitasie (DWS) se swak bestuur en uitvoer van strategieë. Ander bekommernisse sluit in:

  1. Die DWS het weer eens nagelaat om die amptelike Blou-en-Groendruppelverslag te publiseer wat die land se watergehalte en die bestuur daarvan belig. In Januarie vanjaar het die parlement ’n verslag van 2014 ontvang en teleurstelling uitgespreek dat inligting oor water in Suid-Afrika so verouderd is.
  1. Tydens ’n droogte is die verdunning van riool- en ander afvalwater wat in riviere en waterbronne vloei weens die afname in natuurlike watervloei minimaal, wat die besoedelingkonsentrasie in waterhulpbronne en dus ook die risiko van gesondheidsgevolge deur watergebruiksaktiwiteite stroomaf verhoog.
  1. Die regering is die grootste besoedelaar van Suid-Afrika se water omdat 4 200 megaliter riool wat nie aan toepaslike gesondheidstandaarde voldoen nie per dag in riviere en damme gestort word.
  1. Munisipaliteite verloor meer as 40% van hul drinkwater weens lekkende waterpype, maar word nie daarvoor aanspreeklik gehou nie.
  1. Ingevolge ’n 2013-verslag van die DWS het slegs 21% van die stelsels oor die nodige aantal toesighouers in terme van die voldoening aan diensvereistes beskik, terwyl 66% van dié stelsels deur toesighouers bestuur word wat nie oor die nodige kwalifikasies beskik nie.
  1. Volgens ’n 2015-verslag van die Wêreld Gesondheidsorganisasie kan ’n geraamde 9% van kindersterftes in Suid-Afrika aan besoedelde water toegeskryf word.
  1. Die DWS – as die bewaarder van water – vervul nie sy verpligtinge nie.
  1. Die DWS pas nie wetgewing toe wanneer munisipale owerhede die skuldige party is nie.
  1. Ten spyte van die groot aantal waterverwante probleme moes die DWS R827 miljoen aan die nasionale tesourie terugbetaal omdat die geld nie in die 2015/2016 finansiële jaar gebruik is nie.

AfriForum is van mening dat ’n onafhanklike waterreguleerder steeds ’n betekenisvolle rol in Suid-Afrika kan speel en moontlik watergehalte, -voorsiening en -bestuur kan verbeter.

“Indien Suid-Afrika ’n onafhanklike waterreguleerder het wat nie vir politieke inmenging vatbaar is nie en water- en dienstewetgewing sal afdwing, sou ons minder lekkasies, openbare klagtes en protes, skoner riviere en damme, gesonder gemeenskappe, ’n groeiende ekonomie en meer water gehad het,” sê Boshoff.

Is jou water skoon? SMS die naam van jou dorp na 45354 en gee AfriForum die mandaat om die gehalte van jou dorp se water te toets. Elke SMS kos R1.

Soortgelyke plasings