AfriForum se Postmasburg-tak: munisipaliteit moet skuld bekend maak


AfriForum se Postmasburg-tak het gister ’n aansoek in terme van die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (wet no. 2 van 2000) (PAIA) gebring om te probeer vasstel wat die Tsantsabane Plaaslike Munisipaliteit se skuld aan Eskom en Sedibeng Water beloop. Dít volg nadat Eskom dié dorp se krag wou ontkoppel en Sedibeng Water watertoevoer wou staak.
Die munisipaliteit het 30 dae om op dié aansoek te reageer. As hulle dit nié doen nie, moet die munisipaliteit skriftelike redes vir die weiering verskaf.

“AfriForum sal ook vir Sylvia Lucas, premier van die Noord-Kaap, betrek as die munisipaliteit die inligting steeds weerhou. AfriForum het twee weke gelede óók ’n PAIA-aansoek gebring om die munisipaliteit se finansiële state te bekom. Ons wil bepaal of die begroting na behore gevolg word,” sê Gonda Louw, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.
“AfriForum wil weet waarom die munisipaliteit vir Eskom en Sedibeng Water geld skuld, aangesien inwoners hul rekenings getrou betaal,” sê Johan Brits, AfriForum se Postmasburg-takvoorsitter.

Gee AfriForum se Postmasburg-tak die mandaat om die munisipaliteit aan te vat. SMS “Postmasburg” na 32532 (R1).

Soortgelyke plasings