AfriForum-teenboelieveldtog besoek Laerskool Muldersdrif


Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 26 Oktober 2018 by Laerskool Muldersdrif besoek gaan aflê. Dié veldtog skep bewustheid oor afknouery in skole.

“AfriForum wil met sy teenboelieprojek saam met leerders, onderwysers en ouers werk om afknouery in skole hok te slaan en die betrokke partye met die nodige kennis toe te rus om dit reg te kry. Tydens ons besoek verduidelik ons aan leerders wat die verskil tussen afknouery en konflik is, omdat baie leerders hierdie twee konsepte met mekaar verwar. Dit is belangrik dat leerders weet dat afknouery iets is wat op ’n herhalende, deurlopende wyse plaasvind en dat dit opsetlike gedrag is. Ons wil kinders aanmoedig om ander te behandel soos hulle sélf behandel wil word, om hul eie identiteit te koester en om so ook wedersydse respek teenoor ander se identiteit te toon. Ons praatjie fokus dus nie net op die slagoffers van afknouery nie, maar ook op die afknouer en die omstanders wat betrokke is. Ons bewusmakingsvideo leer leerders meer van die verskillende vorme van afknouery, waaronder fisiese, emosionele, verbale en kuberafknouery,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.
“Bewusmaking van afknouery is om twee redes belangrik: Eerstens om kinders te leer om te kan onderskei tussen regte en verkeerde optrede, en tweedens om die afknoukringloop te verbreek. Ons moet die keuse maak om te sê dit stop by ons, sodat dit beter word vir ons kinders en hul kinders,” sê Pieter van Zyl van School of Life.
“Laerskool Muldersdrif poog om leerders bewus te maak van wat afknouery werklik beteken en moedig hulle aan om nie stil te bly nie. Leerders het ’n wanindruk van die betekenis. Boonop word kinders ook deesdae weens sosiale media so maklik slagoffers van afknouery. Daarom ondersteun ons AfriForum se teenboelieveldtog en waardeer hul bereidwilligheid om saam met ons teen hierdie onaanvaarbare gedrag te veg,” sê Johané van Niekerk, ’n onderwyseres by die Laerskool Muldersdrif.

AfriForum se teenboeliegids bevat raad aan ouers, onderwysers en leerders. Dit bevat ook regsadvies wat deur Daniel Eloff van Hurter Spies geskryf is, asook die verhale van bekendes wat ook afgeknou is, soos Donnalee Roberts, Ivan Botha en Chris Chameleon. Die gids bevat ook aktiwiteite wat kinders meer bewus maak van wat afknouery werklik is.
Stuur ’n e-pos aan leandie.brasler@afriforum.co.za as jou kind se skool by dié veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.
Skakel na die bewusmakingsvideo: https://www.youtube.com/watch?v=S1lld_ptiP4
Skakel na teenboeliegids: https://afriforum.co.za/wp-content/uploads/Teenboeliegids_Digital.pdf

Soortgelyke plasings