|

Federale strategie en planne nodig vir groter selfbestuur

Federalisme moet binne gemeenskappe bevorder word sodat hulle ondanks die verval in die land en die onvermoë van die regering al hoe meer beheer en besluite kan neem oor kwessies wat hulle raak.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het vandag by die opening van die organisasie se vierde nasionale kongres by Buffelspoort, gesê die ANC en sy transformasie-gedrewe agenda gaan die voortbestaan van die Afrikaner onmoontlik maak. “Soos wat die regering al hoe meer misluk, gaan ons al hoe meer die sondebokke gemaak word vir als wat verkeerd gaan.

“Ons moet dringend alternatiewe in plek kry en ons planne versnel om ons as gemeenskappe sterker en veiliger te maak en om ons in staat te stel om onsself te bestuur.

“Ons moet ’n kopskuif maak en ons toekoms in ons eie hande neem omdat ’n korrupte regering niks vir ons gaan doen nie. Om dit te bereik is meer selfdoenprojekte en selfdoeninstellings nodig.”

Hy het na AfriForum se 162 buurtwagte verwys wat gemeenskappe veiliger maak, terwyl die polisie vandag hopeloos is. “Deur ’n buurtwag in jou gemeenskap te stig, neem jy aktief beheer en ’n besluit oor jou eie veiligheid en die van jou gemeenskap.”

Kriel sê dit is baie belangrik dat Afrikaners en gemeenskappe nie hoop moet verloor nie en juis in moeilike tye hoopskeppers moet wees. “Ons voorouers het dit baie slegter gehad en hulle het ondanks baie moeilike omstandighede nie gaan lê nie en hulself opgehef.”

Kriel het verwys na eie instellings binne AfriForum en die Solidariteit Beweging soos Pionier, Helpende Hand, Maroela Media, Akademia en Sol Tech wat vorme van federalisme is. “Met die oprigting en uitbouing van hierdie instellings wys ons dat ons self beheer neem.”

Hy sê terwyl daar voortgegaan word om hierdie instellings vir die toekoms te bou, moet gemeenskappe en AfriForum egter steeds voortgaan om te veg teen verdere verval.

Hy het AfriForum se vyfjaarlange hofstryd vir die behoud van Afrikaans aan Unisa as voorbeeld uitgewys waar die uiteinde was dat konstitusionele hof die wettigheid van Afrikaans as onderrigmedium bevestig het. “Terwyl ons hierdie geveg vir die behoud van Afrikaans en Afrikaanse onderwys geveg het, is Akademia egter verder uitgebou om Afrikaanse onderrig te verseker.”

Kriel het verduidelik dat gemeenskapsplanne nie oral in die land dieselfde kan wees nie. Gemeenskapsplanne hang van die demografie van ’n bepaalde gebied af. “Die werklikhede in die Wes-Kaap en Limpopo is byvoorbeeld heeltemal verskillend.”

Hy het na die ankerdorpgemeenskapstrategie verwys waar die fokus val op die beskikbaarstelling van hulpbronne waar dit tot die grootste voordeel van die gemeenskap is. As voorbeelde het hy Hluhluwe en Coligny gebruik. Hluhluwe doen uitstekend op veiligheidsgebied met een van die doeltreffendste beheerkamers in die land. Dit sal egter nie sinvol wees om op dié dorp ’n Afrikaanse privaatskool te gaan bou nie.

“In die geval van Coligny is verval groot. Mense kry nie in ’n dorp soos hierdie hul huise verkoop nie en oumense is vasgevang om hier te bly. Dit is hoekom ons moet kyk na groter dorpe wat naby aan kleiner dorpe is sodat mense hul kinders na skole hier kan stuur en toegang tot dienste en geriewe het.”

Kriel se boodskap aan kongresgangers was dat gemeenskappe hul planne moet versnel en hul toekoms met hul eie hande moet terugvat.

Soortgelyke plasings