Water
|

Geïntegreerde, gemeenskapsgerigte benadering nodig om waterkrisis te voorkom – AfriForum

AfriForum neem kennis van die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, se verduideliking oor die verantwoordelikhede van  plaaslike munisipaliteite om waterdienste te verskaf. Die burgerregteorganisasie glo egter vas dat die Departement van Water en Sanitasie (DWS) nie net alle verantwoordelikheid op die munisipaliteite kan pak nie. As die bewaarder van water in Suid-Afrika moet die DWS ’n aktiewe en samewerkende rol speel om die waterkrisis, wat baie gemeenskappe reg oor die land raak, op te los.

Terwyl munisipaliteite inderdaad getaak is met die direkte voorsiening van waterdienste, moet die DWS nouer saamwerk met munisipaliteite en die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta) om te verseker dat hierdie plaaslike owerhede die nodige ondersteuning, hulpbronne en oorsig het om hul pligte doeltreffend te vervul. Die huidige stand van waterdienste op munisipale vlak dui op ’n dringende behoefte aan sterker koördinering en ingryping van die nasionale departement se kant af.

“Bowendien glo ons dat die oplossing vir die haglike watersituasie binne ons gemeenskappe lê. Gemeenskappe moet bemagtig word en van geleenthede voorsien word om met die DWS en Cogta saam te werk om volhoubare en doeltreffende oplossings te ontwikkel wat op dienslewering gefokus is. Dit beteken nie net om munisipaliteite aanspreeklik te hou nie, maar ook om te verseker dat nasionale en provinsiale strukture die nodige rugsteun en raamwerke verskaf om verbeterings in waterdienslewering te fasiliteer,” sê Lambert de Klerk, bestuurder vir Omgewingsake by AfriForum.

AfriForum versoek ’n meer geïntegreerde en gemeenskapsgerigte benadering om die waterkrisis die hoof te bied. Die DWS moet verantwoordelikheid neem as ’n sleutelspeler in hierdie poging en saam met munisipaliteite, Cogta en gemeenskappe werk om te verseker dat elke Suid-Afrikaner toegang het tot betroubare en veilige waterdienste.

Soortgelyke plasings