|

AfriForum-buurtwag in Klerksdorp vervang onveilige stoptekens

AfriForum se Songloed-buurtwag in Klerksdorp het op 8 November, onder leiding van Abrie van Wyk, ’n buurtwaglid, sewe stoptekens in Songloed vervang of nuut opgerig. Die nuwe stoptekens is op die hoeke van Oosthuizenlaan en Elandsheuvelstraat, Logan- en Wesselsstraat, Leemhuis- en Wesselstraat, asook Donald- en Greystrate. Die gebrek aan sigbare stoptekens was ‘n groot veiligheidsrisiko.

Volgens Frans Roos, voorsitter van die AfriForum-tak in Klerksdorp, is hierdie aksie ’n bewys daarvan dat hierdie tak die verval hokslaan. “Baie dankie aan die Songloed-buurtwag vir die groot verskil wat julle maak, asook vir pastoor Thomas Collin van Ruach Adonai Healing Lodge, wat van hulle inwoners beskikbaar gestel het om met die werk te help.”

“Die AfriForum-buurtwag in Songloed, Klerksdorp maak nie net ’n groot verskil deur die patrollies wat hulle gereeld ry nie, maar ook om die woonbuurt ook op ’n ander manier veilig te maak. Dit is waar ons graag al die inwoners van Klerksdorp aanmoedig om betrokke te raak en sodoende ’n verskil te maak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Soortgelyke plasings