| |

Opruiming én herstelwerk ­– só pak AfriForum-tak probleme in Standerton

Terwyl slaggate meer en meer sinoniem raak met Standerton, en verval van terreine soos die dorp se begraafplaas ’n skande geword het, weier AfriForum se plaaslike tak om dié agteruitgang te duld. Daarom het die Standerton-tak weer in Februarie twee projekte aangepak om die verval te stuit. ’n Suksesvolle slaggatprojek en die opruiming van die ou Standerton-begraafplaas is twee maniere waarop die Standerton-tak die afgelope maand gewerk het aan die opheffing van hierdie dorp.

Die slaggatprojek is in Februarie in samewerking met Standerton Superspar aangepak wat die teer vir die herstelwerk geskenk het. ’n Groot aantal slaggate is suksesvol herstel. Een slaggat was so reusagtig dat dit ’n totaal van 26 sakkies teer geneem het om die gat te herstel.

Die opruiming van die ou Standerton-begraafplaas, waarvan die Standerton-konsentrasiekampbegraafplaas deel vorm, is ook die afgelope maand aangepak. Hierdie projek is in samewerking met Kasselman Security Services, ’n plaaslike sekuriteitsmaatskappy, en die Lekwa Cleanup Crew, getakel. Tydens hierdie opruimingsprojek is ’n beskadigde Standerton-naambord in die veld opgespoor. Die bord is intussen herstel en by die ingang van die begraafplaas opgerig.

Leon Enslin, voorsitter van AfriForum se Standerton-tak, hou vol dat projekte soos dié met ywer aangepak word. “Ons is trots op ons dorp en sal nie toelaat dat die verval voortgaan nie,” benadruk hy.

Hy moedig intussen die gemeenskap aan om ook ’n bydrae tot die opbou van Standerton te maak en betrokke te raak by projekte soos dié. Besoek gerus www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings