|

AfriForum en publiek neem sterk standpunt in teen BELA-onderwyswetsontwerp by openbare raadplegingsessie in Soshanguve

Verteenwoordigers en lede van AfriForum, asook van ander organisasies en die algemene publiek, het sterk standpunt teen die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wet) ingeneem tydens die openbare raadplegingsessie hieroor wat vandag (1 Maart 2024) in Soshanguve plaasgevind het. Dié sessie was deel van die Gautengse Wetgewer se openbare raadplegingproses oor dié wetsontwerp.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is die sessie goed bygewoon. Sy noem dat vele teenwoordiges daarop gewys het dat die konsepwet artikels bevat wat ’n ernstige bedreiging vir die toekoms van gehalte onderrig, asook gemeenskappe en ouers se besluitnemingsmagte oor hulle kinders se onderwys inhou. Dit het onder meer te make met die magsentralisasie in die hande van provinsiale onderwyshoofde om ’n finale besluit oor toelatings- en taalbeleide te neem. Hierdie magte berus tans by demokraties verkose ouerbeheerliggame en nie by owerhede nie.

Die openbare raadplegingsessies vind sedert die begin van die jaar in al die provinsies plaas as deel van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) se besluitnemingsproses oor die wetsontwerp. Dit bied aan lede van die publiek die geleentheid om standpunt teen die wet in te neem. Die meerderheid van hierdie byeenkomste is deur personeel en lede van AfriForum bygewoon. Hulle het daar veral hulle kommer uitgespreek oor die bedreiging vir Afrikaanse moedertaalonderrig wat hierdie uitbreiding van die owerhede se magte sal skep, ten koste van gemeenskappe se reg om self oor hulle kinders en skole se belange te besluit.

AfriForum is van mening dat dit beter sal wees om die konsep te skrap en van voor af oor die hersiening van die bestaande skolewetgewing te besin. “Dit is nou tyd om weer nuut oor skolewetgewing te dink eerder as om verder tyd en koste aan hierdie ideologies gelaaide, ongrondwetlike en verouderde konsepwet te wy. Die huidige samewerkingsmodel van skoolgemeenskappe en owerhede moet beskerm word, asook alle aspekte wat moedertaalonderrig kan bevorder,” voeg sy by.

AfriForum doen ’n beroep op almal wat gemeenskappe se onderwysbelange op die hart dra, om die sessies wat nog voorlê, sover moontlik by te woon en hulle stemme teen die wetsontwerp te laat hoor.  Meer inligting is beskikbaar by stopbela.co.za.

  • Foto’s aangeheg: AfriForum-veldtogbeampte, Louis Boshoff, by vandag se openbare raadplegingsessie in Soshanguve.

Soortgelyke plasings