AfriForum se Konstitusionele Hof-aansoek oor Hlophe kry groen lig

AfriForum is ná vandag nog ’n tree nader aan sy doelwit om die aanstelling van voormalige regter-president dr. John Hlophe as lid van die Regterlike Dienskommissie (RDK) in die Konstitusionele Hof ter syde te laat stel. Dit volg nadat die Konstitusionele Hof vandag direktiewe uitgereik het wat respondente in dié saak beveel om beëdigde verklarings in te dien in antwoord op AfriForum se aansoek om direkte toegang tot die Konstitusionele Hof.

AfriForum het in Julie direkte toegang tot die hof versoek om te verklaar dat Hlophe se aanstelling in die RDK irrasioneel, onregmatig en in stryd met die Nasionale Vergadering (NV) se grondwetlike plig is. Die Speaker van die Parlement, Hlophe en die MK-party is respondente in dié saak en het nou tot eerskomende Vrydag (30 Augustus) kans om hul beëdigde verklarings te liasseer.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die hof se uitreiking van hierdie direktiewe ’n belangrike verwikkeling en dui daarop dat die hof AfriForum se aansoek om direkte toegang oorweeg.

“Dit is ’n positiewe aanduiding dat AfriForum se aansoek om direkte toegang tot die Konstitusionele Hof nie op ongeldige gronde gebaseer is nie. Ons beskou dit as ’n stap in die regte rigting om die oppergesag van die reg in beskerming te neem. Dit maak ons ook nou selfs meer hoopvol dat Hlophe se aanstelling in die hoogste hof beveg sal kan word en dat hierdie aanstelling, wat die geloofwaardigheid en onafhanklikheid van die regbank kniehalter, ter syde gestel sal kan word,” verduidelik Kriel.

Hlophe se eie aansoek om direkte toegang tot die Konstitusionele Hof om die prosesse wat sy ontheffing as regter tot gevolg gehad het ter syde te stel, is intussen verlede week summier van die hand gewys.

Agtergrondinligting

Hlophe is die eerste regter wat ná 1994 deur die NV van sy amp onthef is. Dit het gevolg nadat die RDK hom skuldig bevind het aan oneerlikheid en growwe wangedrag. Sy skuldigbevinding het voortgespruit uit sy pogings om twee regters van die Konstitusionele Hof, regters Bess Nkabinde en Chris Jafta, in 2008 onregmatig te beïnvloed om ten gunste van Jacob Zuma te beslis in sake voor hulle.

Soortgelyke plasings