| |

AfriForum oudit vullisterreine in Oos-Kaap

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vanjaar 161 vullisterreine landwyd geoudit as deel van hulle nasionale projek om die toestand van vullisterreine in Suid-Afrika te bepaal.

Slegs twee uit die sewe vullisterreine wat in die Oos-Kaap geoudit is, het aan die nasionale standaarde voldoen. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis 59 van 2008, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Só vergelyk die vullisterreine in die Oos-Kaap:

Volgens Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap, is die meeste vullisterreine in Die Oos-Kaap in ’n haglike toestand. Dit kan volgens hom hoofsaaklik aan swak bestuur toegeskryf word.

“Die algemeenste probleme wat die AfriForum-takke in die Oos-Kaap tydens hierdie oudit opgemerk het, is dat daar geen instandhouding is nie en dat daar ook geen grondverskuiwingsmasjiene is om die vullis netjies toe te stoot nie. Verder is daar geen toegangsbeheer nie, dus word daar nie gemoniteer watter soort vullis inkom nie. Dit is ’n groot bron van kommer aangesien die munisipale amptenare van die Oos-Kaap nie tot verantwoording geroep word nie. Munisipale verval is aan die orde van die dag en dit is duidelik dat veral kleiner munisipaliteite onder grootskaalse wanbestuur gebuk gaan,” sê Van der Walt.

Hierdie situasie kan daaraan toegeskryf word dat die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO) deur drie verskillende regeringsfere beheer word. Die nasionale departement het slegs bevoegdheid om op nasionale vlak wette, beleide, norme en standaarde vas te stel, maar hulle het geen bevoegdheid op provinsiale of munisipale vlak nie. Die provinsie rapporteer aan die provinsiale LUR, nie aan die minister nie. Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (CoGTA) en die DBVO kommunikeer nie met mekaar nie en dit bring dus nog ʼn uitdaging mee.

Klik hier en lees die volledige verslag.

Soortgelyke plasings