|

Duvha Park-buurtwag doen stappe teen vandale wat inligtingsbord beskadig

AfriForum se Witbank-tak het vandeesweek met afgryse verneem dat ’n inligtingsbord wat die burgerregteorganisasie aan die Duvha Park-buurtwag geskenk het, onder vandale deurgeloop het. Dié buurtwag het intussen stappe gedoen om te verseker dat die betrokkenes vasgetrek en vervolg word.

Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, sê dié bord is minder as twee maande gelede aan die buurtwag geskenk en by die ingang van die buurt opgerig om inwoners bewus te maak van die buurtwag se teenwoordigheid in die gebied. Die bord is egter verlede week platgetrek en gebuig en moet nou vervang word.

Die Duvha Park-buurtwag het reeds ’n saak van kwaadwillige beskadiging van eiendom teen die vermeende vandale aanhangig gemaak en sal, in samewerking met AfriForum se Witbank-tak, die saak verder monitor. AfriForum het intussen ’n nuwe bord bestel wat in die volgende paar weke opgerig sal word.

“AfriForum is daartoe verbind om plaaslike buurtwagte te ondersteun wat ’n verskil in gemeenskappe maak, daarom sal hierdie blatante beskadiging van hul eiendom nie geduld word nie. Hierdie bord bevat inligting en kontakbesonderhede oor die buurtwag en ontmoedig boosdoeners om amok te maak in die gebied. Dit is ten voordeel van die hele buurt opgerig en diegene wat verantwoordelik is vir die beskadiging daarvan moet besef dat hulle nie kan maak en breek soos hulle wil in dié buurt nie,” sê Bekker.

Inwoners wat by AfriForum se tak in Witbank betrokke wil raak kan www.wordlid.co.za besoek vir meer inligting.

Soortgelyke plasings