AfriForum stig rampfonds vir Jagersfontein

AfriForum het vandag ’n rampfonds op die been gebring nadat die damwal van die slikdam by Jagersfontein op 11 September gebreek het.

Verskeie huise het weggespoel en groot skade is aan die dorp aangerig. Talle boere het ekstensiewe verliese gelei nadat die modder en vloedwater oor hulle grond gespoel en alles meegesleur het. Grootskaalse veeverliese is ook aangemeld,  in een spesifieke geval het ’n boer 90% van sy vee verloor.

Die fonds is in samewerking met Saai gestig om lede in die gemeenskap en boere by te staan.

“Dit is belangrik dat ons die gemeenskap in hul tyd van nood ondersteun. Benewens ander lede van die gemeenskap wat reeds hulp uit verskeie oorde ontvang, moet ons boere se verliese nie gering ag nie. Weiding is in baie areas totaal oorstroom en daarom is een van ons prioriteite om veevoer te help verskaf,” verduidelik Corné Cronjé, bestuurder van gemeenskapstukture vir AfriForum.

Ons doen ’n beroep op die publiek om die fonds te ondersteun. Donasies kan aan die volgende rekening oorbetaal word.

Rekeningnaam:          AfriForum NPC

Taknaam:                   FNB Centurion

Rekeningnommer:     623 4989 8398

Takkode:                     261550

Verwysing:                  Damramp

“AfriForum het reeds vanaf Sondag lugbystand met soek-en-reddingpogings gebied deur twee hommeltuie te ontplooi. AfriForum-buurtwagte se hommeltuigvlieëniers was instrumenteel om lugfoto’s van die betrokke area te neem en veilige landingsones aan helikoptervlieëniers uit te wys en te beman,” voeg Cronje by.

Soortgelyke plasings