|

Nóg klagtes teen vakansieswendelaar ingedien

Enkele dae voor Francois Swart, eienaar van Priority Escapes, se verskyning in die Modimolle-landdroshof het AfriForum se privaatvervolgingseenheid nog ’n voornemende vakansieganger gehelp om ’n strafregtelike klag teen Swart in te dien. Ruan Kruger het Woensdag die klagtes by die Douglasdale-polisiestasie ingedien. Swart het vandag in die landdroshof verskyn op klagtes wat in Augustus verlede jaar in Modimolle teen hom aanhangig gemaak is.

Swart het na bewering verskeie voornemende vakansiegangers uit honderde duisende rande geswendel. Die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig nou talle klaers wat strafregtelike klagtes teen Swart ingedien het. Die staatsaanklaer het vandag die hof gevra vir uitstel sodat die polisie die ondersoek kan finaliseer aangesien daar steeds bankstate is wat verkry moet word.

In die privaatvervolgingseenheid se konsultasies met klaers is persone na aan Swart ook as moontlike verdagtes geïdentifiseer.

By die hof het die privaatvervolgingseenheid ook ’n ernstige breuk in die hof se sekuriteit waargeneem wat aangemeld sal word by die hofbestuurder en die hooflanddros se kantoor. Swart en sy prokureur het in die area parkeer wat gereserveer is vir werknemers van die Departement van Justisie en ook die hof binnegegaan sonder om deur die nodige sekuriteitsproses te gaan waaraan almal anders onderwerp is. Hulle het later op dieselfde wyse die hof verlaat ten spyte daarvan dat die privaatvervolgingseenheid hulle kommer hieroor teenoor sekuriteitspersoneel uitgespreek het.

Gewone lede van die publiek word vereis om die sekuriteitsregister in te vul, hul sakke word deursoek en hulle word gevisenteer voor hulle by die gebou mag ingaan. Swart, as ’n beskuldigde, en sy prokureur het hierdie proses heeltemal omseil. Hierdie insident het kommer laat ontstaan dat sekere beskuldigde persone sekere voorregte het wat nie aan gewone lede van die publiek toegestaan word wanneer hulle hofverrigtinge bywoon nie.

Die saak is uitgestel tot 25 April 2024.

Soortgelyke plasings