AfriForum-petisie om Pta te red ná net 48 uur reeds meer as 7 000 handtekeninge sterk

Die petisie wat AfriForum vandeesweek van stapel gestuur het om die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit uit die hande van ’n EFF-ANC-koalisie te hou is ná net 48 uur deur meer as 7 000 inwoners onderteken. Met die ondertekening van AfriForum se petisie word ’n outomatiese skrywe aan die leiers van ActionSA, DA, IVP, ACDP en VF+ gestuur om die geskille in die koalisie so gou moontlik en in die belang van die metro se inwoners by te lê.

Die burgerregteorganisasie se omvattende veldtog volg nadat ActionSA aangekondig het dat hy dit ernstig oorweeg om hom by die ANC en die EFF te skaar om Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane, uit te stem en sodoende die veelpartykoalisie in die metro ten gronde te laat gaan.

Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekking by AfriForum, sê al het AfriForum geen beheer oor of die veelpartykoalisie verbrokkel of nie, kan die burgerregteorganisasie en die publiek steeds druk op partye plaas om die koalisie se kanse op oorlewing te verbeter. “Verantwoordelike lede van die veelpartykoalisie sal die inwoners van Pretoria se belange bo politieke belange plaas. Indien die koalisie verbrokkel sal die publiek egter sien en onthou wie hul party bo Pretoria geplaas het,” voeg hy by.

“Dis wel bemoedigend dat duisende mense reeds hul stem laat hoor deur AfriForum se Red Pretoria-veldtog te ondersteun. Daar is minder as twee weke oor om die veelpartykoalisie, en Pretoria se toekoms, te red. Dus sal AfriForum die druk volhou,”  sluit Van Zyl af.

Besoek www.redpretoria.co.za en voeg jou naam by die petisie om te verhoed dat die EFF en sy vennote by die administrasie van die Tshwane-metro betrokke raak.

Soortgelyke plasings