|

AfriForum versoek Merafong om betalingsooreenkomste met Rand water te onderteken

AfriForum het ’n dringende skrywe aan die Merafong Plaaslike Munisipaliteit gerig wat die munisipaliteit aanmaan om onmiddellik behoorlike betalingsooreenkomste met Rand Water te onderteken. Die organisasie se bekommernisse spruit uit die onlangse kennisgewing wat aandui dat die Merafong-munisipaliteit se totale skuld aan Rand Water meer as R1 miljard beloop en dat die munisipaliteit nie daarin kon slaag om behoorlike betalingsooreenkomste met Rand Water te sluit nie. Rand Water dreig nou om die waterdruk teen 17 September met 20% te verlaag wat die gemeenskappe van Fochville en Carletonville sal beïnvloed.

In die brief wat op 10 September aan die Merafong-munisipaliteit gestuur is, versoek AfriForum om nou saam met die departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (COGTA) te werk om ’n behoorlike betalingsplan met Rand Water te beding en sodoende te verseker dat kritieke waterdienste ononderbroke bly.

“Die potensiële impak van verminderde waterdruk is verreikend. Plaaslike ondernemings sal aansienlike finansiële verliese in die gesig staar, skole kan gedwing word om te sluit en die alledaagse lewe van inwoners sal ernstig ontwrig word,” meen Butch Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand.

AfriForum doen ’n beroep op die Merafong-munisipaliteit om verantwoordelikheid te neem vir die regstelling van die huidige finansiële wanbestuur en om te verseker dat proaktiewe stappe geneem word om hierdie krisis spoedig op te los.

Soortgelyke plasings