|

AfriForum skep hoop in Swellendam tydens Boomplantmaand

Die AfriForum-tak in Swellendam het op 3 Oktober inheemse geelhout- en witolienhoutbome by die Swellendam-hospitaal en Huis AA Tomlinsen geplant as deel van dié organisasie se jaarlikse Boomplantmaand.

Volgens Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, is AfriForum op verskeie maniere betrokke om omgewingsvolhoubaarheid te bevorder en die land se natuurlike erfenis te bewaar. Die Boomplantmaand-projek vind elke jaar in aansluiting tot Nasionale Boomplantweek plaas, met die doel om die publiek oor die belangrikheid van bome in te lig en aan te moedig om inheemse bome te plant.

“Deur inheemse bome te plant, is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en ’n mooier plek te maak om te bly nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n natuurlike hulpbron waarsonder niemand sal kan oorleef nie – dit is ook deel van ons erfenis,” sê Erasmus.

Die nasionale algemene boom van die jaar vir 2023 is die witolien (Buddleja saligna, SA boomnommer 636), terwyldie nasionale skaars boom van die jaar die Vanwykshout (Bolusanthus speciosus, SA boomnommer 222) is. AfriForum moedig gemeenskappe aan om inheemse bome te plant wat goed in hul omgewing aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Swellendam onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” meen Wally Walters, voorsitter van AfriForum se Swellendam tak. “Ons bedank Otter Bend Kwekery, wat die bome geskenk het”

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die veldtog betrokke te raak en deel te word van ’n beter en groener toekoms. Stuur ‘n epos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za om aan te sluit.

Soortgelyke plasings