|

Pionier-buurtwag help om rooihartbeesbokke in Pretoria-strate te vang

Twee rooihartbeesbokke was vandeesweek ’n bok vir sports en het behoorlik die ooste van Pretoria op horings geneem. AfriForum se Pionier-buurtwag het op 11 September gehelp om dié bokke, wat uit die Faerie Glen-natuurreservaat ontsnap het, te vang. Die bokke is veilig na die reservaat teruggeneem.

Die gemeenskap het op 4 September die twee rooihartbeesbokke in die strate van Pretoria sien wandel. Video’s van dié rare verskynsel het soos ’n veldbrand versprei waarna verskeie plaaslike instansies kragte saamgesnoer het om die bokke se uitstappie kort te knip.

Die bokke het vermoedelik deur gate in die reservaat se heining ontsnap wat deur misdadigers veroorsaak is.

Daar is drie pogings aangewend om hierdie wilde diere te vang. Eindelik kon AfriForum en ander rolspelers daarin slaag om die bokke in ’n inwoner se erf in Lynnwood Ridge – sowat 3 km van die Faerie Glen natuurreservaat – aan te keer. ’n Veearts het die bokke verdoof waarna hulle veilig na hul tuiste geneem is.

Organisasies wat gehelp het om die bokke te vang, sluit in Alerts Faerie Glen, Alpha Security Forum, AfriForum, Pretoria Traffic, Comsafe, natuurbewaring, sektor 1 en 2 van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en die Brooklyn-GPF/Old East Safety Forum.

“Alhoewel die meeste van die betrokke organisasies veiligheid georiënteerd is, is hierdie sukses ’n bewys van die belangrikheid van goeie en doeltreffende kommunikasie en skakeling om gemeenskappe in enige situasie te help,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Besoek www.wordlid.co.za  of stuur ’n epos na pioniers@afriforumtak.co.za om by AfriForum se Pionier-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings