|

Crimen injuria-verhoor van Maleba-Thema begin uiteindelik

’n Saak teen ’n senior-offisier van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wat nou al vir sewe jaar sloer, het uiteindelik in die Thembalethu Streekshof in die Wes-Kaap begin. Majoor-generaal Sandra Malebe-Thema word aangekla van sewe klagtes van crimen injuria nadat sy na bewering verskeie wit polisiebeamptes by die Oudtshoorn polisie opleidingskollege verneder en hulle menswaardigheid aangetas het. Malebe-Thema het onskuldig gepleit toe die saak op Dinsdag, 7 November begin het.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag op namens Riana Stander (voorheen Viviers). Stander is een van die klaers in hierdie saak en het Dinsdag getuig oor die insidente wat in November 2016 plaasgevind het. Stander het sedertdien die polisiediens verlaat as kaptein met 27 jaar se ervaring.

Sy het getuig dat personeel van die kollege almal in ’n saal moes bymekaar kom waar Malebe-Thema en ander bestuurders hulle ingewag het. Malebe-Thema het volgens Stander al die instrukteurs gevra om op te staan waarna sy gesê het dat sy nie hou van wat sy sien nie aangesien die prentjie “te wit” is. Malebe-Thema het na bewering gesê dat Stander en die ander nie transformasie wil ondersteun nie en toe bygevoeg “julle is te wit”. Stander het aan die hof gesê dat hierdie stelling die indruk geskep het dat sy en die ander instrukteurs rassisties was. Malebe-Thema het verder valslik gesuggereer dat die instrukteurs poste beklee wat beter vergoeding ontvang terwyl swart personeel poste beklee wat laer vergoed word.

Stander het verder getuig dat sy en die ander personeel later dieselfde dag opdrag gegee is om terug te keer na die saal waar hulle op die verhoog voor 450 polisiestudente moes staan. Volgens Stander het Malebe-Thema haar en die ander personeel voor die juigende studente berispe oor hulle kleredrag. Op ’n stadium het Malebe-Thema na bewering Stander se voorkoms gekritiseer en vir haar gesê, “kyk hoe lyk jy, jy is vet, hoe kan jy vir jouself kyk”.

Stander het getuig dat sy begin huil het en dat sy verkleineer gevoel het voor die studente omdat sy beoordeel was op haar voorkoms en nie haar vermoë as instrukteur nie. Twee verdere klaagsters, Kaptein Ronel Blignaut, wat 30 jaar diens in die SAPD het, en voormalige instrukteur Tanya Kennedy, het Stander se getuienis bevestig. Kennedy, ’n 37-jarige SAPD-veteraan, het getuig hoe sy aan post-traumatiese stresversteuring ly as gevolg van die openbare vernedering wat sy moes verduur aan die hand van Malebe-Thema. Getuienis is tot Donderdag, 9 November, aangehoor.

Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid, sê dat dit teleurstellend is dat die saak so lank moes neem om aangehoor te word. “Dit was eers nadat die privaatvervolgingseenheid ingetree het dat die saak op die rol geplaas is en, ietwat teësinnig, tot ’n vlak gebring is waar die saak uiteindelik vervolg kon word. Ongeag of jy ’n konstabel of ’n generaal is, almal moet gelyk wees voor die reg. Malebe-Thema is nie ’n uitsondering nie, so ons is verheug dat hierdie saak uiteindelik op die rol geplaas is en dat sy tot verantwoording gebring kan word.”

“Hierdie toegewyde polisievroue moes ontsaglike vernedering verduur na bewering aan die hand van Malebe-Thema. Al draai die wiele van geregtigheid hopeloos te stadig sal ons aanhou om hierdie saak te moniteer ten einde te verseker dat geregtigheid geskied,” sê Bateman.

Die saak is uitgestel tot 25 Junie 2024.

Soortgelyke plasings