|

Dis ’n morsige ramp! Potchefstroom-stortingsterrein se snelle agteruitgang wek kommer

Skaars drie maande sedert ’n nuwe kontrakteur bestuur van die Potchefstroom-stortingsterrein oorgeneem het, het dié eens knap bestuurde terrein reeds ’n morsige en snelle agteruitgang beleef. Dít meen AfriForum se Potchefstroom-tak moet dringend reggeruk word, maar ten spyte daarvan dat ’n skrywe hieroor reeds op 27 November aan die munisipale bestuurder van die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit, Kgomotso Kumbe, gestuur is, is geen terugvoer ontvang nie.

Die haglike toestand van die terrein dui, volgens die Potchefstroom-tak, daarop dat daar nie behoorlike afvalbestuur toegepas word nie.

Vullis lê ver buite die afgebakende gebied van die stortingsterrein verstrooid; op die terrein self is daar ook veel meer vullis as wat voorheen die geval was; en ’n vullissel wat volgens bronne reeds vol is, is nou weer in gebruik. Die aantal onwettige herwinningswerkers op die terrein het ook met rasse skrede toegeneem, terwyl verskeie gevalle van aggressie deur dié mense teenoor lede van die publiek al aangeteken is.  

Intussen kom dit voor asof die munisipaliteit die morsige ramp wat nou by die stortingsterrein afspeel, oogluikend toelaat. In die skrywe aan Kumbe, eis die Potchefstroom-tak antwoorde oor die situasie by stortingsterrein en die aanstellingsproses van die nuwe kontrakteur.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder in die Mooirivier-streek, is die aanstelling van die nuwe kontrakteuronrusbarend, want ten spyte van die feit dat daar puik plaaslike kontrakteurs beskikbaar is, is ’n nuwe kontrakteur van Mpumalanga aangestel.

“AfriForum eis dringend antwoorde oor die aanstelling van hierdie kontrakteur wat duidelik nie die goeie werk gaan lewer wat die vorige, plaaslike kontrakteur gelewer het nie. Onder die bestuur van die vorige kontrakteur, het dié stortingsterrein ’n nakomingspunt van 94% behaal in AfriForum se vullisterreinoudit wat in Augustus vrygestel is. Dié punt toon dat die terrein in bykans elke opsig aan die minimum wetlike vereistes van stortingsterreine voldoen het,” sê Pretorius. “Die kommerwekkende is dat dinge hier handomkeer verander het en nou, skaars drie maande later, ernstige agteruitgang beleef.”

Pretorius voer aan dat die gesloer met die voorbereiding van nuwe stortingselle en die moontlike besoedeling van ondergrondse water ook kommer wek. “Ons sal egter ons waghondfunksie uitvoer en aanhou om antwoorde én optrede van die munisipaliteit te eis,” sluit Pretorius af.

Soortgelyke plasings