|

Administrasie-hofsaak: Ramaphosa wil AfriForum se ingryping teenstaan

President Cyril Ramaphosa is ’n party by die hofaansoek om Ngwathe Plaaslike Munispaliteit onder provinsiale administrasie te plaas as gevolg van die gedurige gebrek aan dienslewering en veral die voortslepende waterkrisis. Ramaphosa het nou te kenne gegee dat hy AfriForum se hofaansoek gaan teenstaan. AfriForum het vroeër vandeesmaand hofstukke by die Bloemfonteinse Hooggeregshof ingedien om dié munisipaliteit onder provinsiale administrasie te plaas.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, blyk dit dat Ramaphosa die gebrek aan dienslewering en die verval in hierdie munisipaliteit goedkeur eerder as om in te gryp en toe te sien dat inwoners van veral Parys en Heilbron van water en basiese dienslewering voorsien word. Geen regshulp word teen Ramaphosa gevra nie, hy is slegs as respondent bygevoeg in sy oorsigtelike rol.

In hul hofstukke het AfriForum onder meer aangevoer dat die munisipaliteit daarin faal om ’n veilige en leefbare omgewing vir inwoners te verseker. Die ineenstorting van die munisipaliteit is sigbaar in onder meer:

  • hul mislukking om die munisipale administrasie te struktureer en te beheer;
  • die algehele gebrek aan begrotings en enige beplanningsprosesse;
  • hul mislukking om uiting te gee aan die basiese behoeftes van die gemeenskap; en
  • hul uiterste mislukking om die maatskaplike en ekonomiese groei van die gemeenskap te bevorder.

Inwoners van Parys gaan al vir jare gebuk onder die gebrek aan skoon water en tans het Heilbron ook baie min water omdat die Ngwathe-munisipaliteit nie hul finansiële verpligtinge teenoor Randwater nakom nie. Dienslewering bestaan in die algemeen nie in die Ngwathe-munisipaliteit nie.

Volgens Pretorius het die Ngwathe-munisipaliteit nog nie aangedui of hulle de aansoek gaan teenstaan nie. “Daar is nog nie ’n hofdatum vasgestel ná die jongste verwikkelinge nie. Die gemeenskap is werklik teleurgesteld in Ramaphosa se besluit om hierdie aansoek teen te staan en ons wag dan vir sy verweer.”

Indien jy by die AfriForum-tak wil betrokke raak, kontak vir Schalk Burger by 082 653 4281 of besoek www.wordlid.co.za

Soortgelyke plasings