|

Uitsig-buurtwag help gemeenskap om begraafplaas op te knap

AfriForum se Uitsig-buurtwag in Bloemfontein het op 15 April kragte met inwoners, verskeie woonbuurtverenigings en die DA saamgespan om die Memoriam-begraafplaas skoon te maak. Hulle het onder meer die gras gesny, bossies uitgetrek, grafstene afgevee en rommel opgetel.

Dit volg ná ’n vergadering vroeër vanjaar met hierdie rolspelers waartydens daar gefokus is op die beplanning van ’n gesamentlike skoonmaakprojek by die Memoriam-begraafplaas. Die hoofdoel was om saam te staan om die netheid te bevorder en om gemeenskapslede wie se geliefdes daar begrawe is die geleentheid te gee om hul grafte skoon te maak.

“Ná weke se beplanning het die groot skoonmaak begin. AfriForum wil graag elkeen bedank vir hul deelname. Dit was ’n groot sukses en ons wil almal aanmoedig om in die nabye toekoms te help,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

AfriForum bedank ook die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit se parke-afdeling, die DA, die Universitas Woonbuurt- en Gardeniapark Woonbuurtverenigings, Towers of Hope, VR Security – AfriForum 911 se reaksievoertuig en die AfriForum-buurtwag in Uitsig.

“Dit is belangrik om hierdie terreine skoon en netjies te hou sodat ons geskiedenis behoue kan bly vir die volgende generasies. Ons moedig lede en ondernemings aan om betrokke te raak en ook om aan te sluit by hul plaaslike AfriForum-struktuur sodat ons netheid en veiligheid kan bevorder,” sluit Groenewald af.

Sluit vandag aan by www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings