AfriForum begin jaarlikse nasionale vullisterreinoudit op positiewe noot


AfriForum het vandag sy nasionale vullisterreinouditprojek by die Groter Tzaneen Munisipaliteit in Tzaneen van stapel gestuur. Tydens dié geleentheid het AfriForum ’n toekenning vir die beste munisipale vullisterrein vir 2016 (volgens AfriForum se verslag) aan dié munisipaliteit oorhandig.
AfriForum het weer vanjaar ’n oudit op dié vullisterrein gedoen en dit met 100% bekroon. Dié oudit is gedoen aan die hand van die minimum vereistes waaraan ’n vullisterrein volgens wetgewing moet voldoen.

“Dié vullisterrein is geheel en al met elektriese heinings omhein, beskik oor ’n weegbrug en daar is sekuriteit by die hek. Daar word ook ’n grootskaalse komposprojek gedryf. Dit is verblydend om te sien dat daar steeds vullisterreine is wat op so ’n hoë standaard bestuur word. Ons hoop dat ander munisipaliteite hierdie jaar dieselfde sal doen. Dit is vir ons belangrik om ook erkenning te gee waar dit toekom,” sê Chris Boshoff, projekkoördineerder by AfriForum.

Die Tzaneen-vullisterrein moes al in 2010 weens ’n tekort aan lugruimte gesluit het, maar te danke aan goeie kompaktering, innoverende bestuur en die herwinning van 200 ton vullis elke maand is die leeftyd van die vullisterrein met nog 20 jaar verleng. Boonop bespaar die vullisterrein jaarliks R7 miljoen deur herwinning toe te pas. Alle masjinerie is in werkende orde en vullis word daagliks gekompakteer.

“Volgens toepaslike wetgewing en regulasies, onder meer die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (wet no. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen. Dit sluit faktore soos toegangsbeheer, onwettige storting, brandregulasies, omheining en rehabilitasie in. Verder mag geen mediese afval op enige vullisterrein wees wat as algemene terrein geklassifiseer word nie. AfriForum het dié vereistes in 33 vrae verwerk en gebruik dan dié vrae om die vullisterreinoudit te doen,” sê Boshoff.

AfriForum gaan in die volgende twee weke vullisterreine in dié areas oudit waar daar gevestigde AfriForum-takke is. Die uitslae gaan dan in ’n verslag opgeneem word en aan Edna Molewa, minister van omgewingsake, oorhandig word.

“Ons is dankbaar vir die departement van omgewingsake se samewerking in hierdie verband en dat die departement se provinsiale afvalbestuursbeamptes vir ons oudits beskikbaar gestel is,” sluit Boshoff af.

AfriForum het reeds elf terreine in Suid-Afrika (dit wil sê minstens een per provinsie) in samewerking met die departement as prioriteitsgevalle geïdentifiseer. Twee van die terreine – Heatherley en Libanon – is in Gauteng geleë en AfriForum gaan aanhou druk toepas om beide terreine voor die einde van 2017 op standaard te bring.
In 2016 het 82% van die 83 vullisterreine wat geoudit is nie aan die minimum standaarde voldoen nie.
Ondersteun AfriForum se vullisterreinouditprojek: SMS die naam van jou dorp na 45354 (R1).

Soortgelyke plasings