|

Prinsloo se vertolking van Spertyd ’n besielende kragtoer in AfriForum Teater

Die aktrise Sandra Prinsloo se vertolking van Elsa Joubert in die eenpersoonverhoogstuk Spertyd is ’n kragtoer en ’n intieme belewenis van dié beroemde skrywer se oudword-reis.

Die stuk word sedert gister en tot 23 Oktober in AfriForum Teater in Pretoria opgevoer. Joubert, ’n bekroonde en gevierde skrywer, sou gister (19 Oktober) 100 jaar oud geword het. Sy is op 14 Junie 2020 aan Covid-19 oorlede. Spertyd is in 2017 uitgegee, die jaar waarin Joubert 95 geword het.

Die stuk is aangrypend eerlik oor die oudwordproses, die verganklikheid van die lewe, die onafwendbare gevolg van siekte, die ingewikkeldheid, maar ook die vreugde, pyn en komiese wat deur die gang van tyd tog deel van elke mens se bestaan is. In die boek, sowel as die stuk, is dit Joubert se woordvaardigheid en vermoë om mense, ’n situasie, ’n belewenis en ’n eenvoudige gewaarwording (soos die vlug van seemeeue) beeldskoon en in detail te beskryf, wat jou as leser en teaterganger meesleur en boei.

Prinsloo se briljante vertolking van Joubert as negentigjarige plus én haar eie uitsonderlike vermoë om in Afrikaans toneel te speel, sorg vir ’n teaterervaring wat jou die een oomblik trane laat afvee en die volgende laat saamlag oor hoe simpel (Joubert se eie woorde) ’n mens se gedagtes en optrede soms kan raak hoe ouer jy word.

Teatergangers word in Spertyd deel van die afgetredenes in Berghof (’n aftreeoord in Kaapstad) waar die lewe maar meedoënloos voortgaan en die inwoners per geleentheid met die kruiwa (rolstoel) oor die straat na die naburige hospitaal geneem word. Party kom terug, ander weer nie …

Hulle word ingetrek in Joubert se vriendekring, oomblikke van heerlike samesyn, maar ook haar vrees vir die angstigheid wat haar met tye oorval, hulle longe wat alweer probleme gee, haar verlange na haar eertydse man Klaas (Steytler) en haar moedige én blymoedige voortbeur om nie te verswak nie. Selfs toe StomJapie (’n wielaangedrewe loopraam) onafskeidbaar deel van haar daaglikse bestaan word, bly haar geesdrif vir die lewe en die skepping wat so mooi en interessant is, so opvallend mooi en inspirerend.

Aan die einde van die stuk, kan ’n mens nie anders nie as om te hoop dat jy ook, soos Joubert, jou laaste jare en dalk laaste dae, ligvoets, tevrede en vergenoegd kan tegemoet gaan.

Soos sy in Spertyd skryf: “Elke sekonde van my lewe is die Krag by my. En as ek sterf, sal ek net dieper daarin glip … As ek maar net hierdie ligtheid van gemoed, hierdie uitvloei in alles, hierdie heilige leegheid, kon behou. Die betekenis hiervan is angswekkend, eerder ontsettend – elke sekonde van jou lewe is die Krag by jou. As jy sterf, glip jy net dieper in.”

Philip Rademeyer is die regisseur van Spertyd. Die stuk is in 2020 ontwikkel en vir die eerste keer deur Aardklop opgevoer. Prinsloo het die Fleur du Cap-prys vir beste eenpersoonvertoning gekry vir haar vertolking van dié werk.

  • Joubert is alombekend vir haar novelles, romans en reisverhale. Bekende titels uit haar pen is Water en woestyn, Die verste reis, Swerwer in die herfsland, Gordel van smarag, Uit my Oosterse dagboek, Suid van die wind, Die staf van Monomotapa, Die nuwe Afrikaan, Bonga, Missionaris en Die reise van Isobelle. Dit is egter haar novelle Die swerfjare van Poppie Nongena, wat in dertien tale vertaal is, waarmee sy beroemdheid verwerf het. Haar outobiografiese tekste ’n Wonderlike geweld en Reisiger het onderskeidelik in 2005 en 2009 verskyn.

Om kaartjies vir die vertoning te bespreek, besoek www.afriforumteater.co.za.

Soortgelyke plasings