|

AfriForum behaal oorwinning teen Rand Water

AfriForum het vandag ’n reuseoorwinning vir die inwoners van Secunda, Bethal, Trichardt, Kinross, Evander, Leandra en Charl Cilliers in die Hooggeregshof in Pretoria behaal. Dié hof het met koste in die burgerregteorganisasie se guns beslis teen Rand Water se besluit om waterdruk in hierdie dorpe te verlaag.

Dit volg ná Rand Water in 2020 die waterdruk in dié dorpe wat onder die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit val, begin verminder het. Rand Water het hierdie stap gedoen omdat die munisipaliteit se skuld aan Rand Water al etlike miljoene beloop het. Die waterdruk in dié dorpe was met tye egter so laag dat daar nie water in die krane was nie.

AfriForum het Rand Water gevra om hul besluit te verduidelik, maar hul antwoord was onvoldoende en het AfriForum genoodsaak om die hof te nader. Die aansoek het behels dat Rand Water die waterdruk moet verhoog sodat dit weer normaal is en dat hul optrede as ongrondwetlik en ongeldig verklaar moet word.

“Hierdie saak was die eerste van sy soort en kan nou as bloudruk aangewend word by enige ander dorp of munisipaliteit wat water by Rand Water kry. Daar is verskeie munisipaliteite in Gauteng, die Vrystaat, Noordwes en Mpumalanga wat hul water van Rand Water ontvang en AfriForum sal ondersoek instel of iets soortgelyks in daardie munisipaliteite plaasvind. Indien dit die geval sou wees, sal ons ook daar teen Rand Water optree. Die hofbevel sê duidelik dat hulle nie waterdruk mag verlaag nie en as hulle sou, sal hulle skuldig wees aan minagting van die hof,” sê Marié Steinberg, AfriForum se hoof van gemeenskapstrukture in die Noordstreek.

Rand Water het die vermindering van die waterdruk as meganisme gebruik om nie heeltemal toegang tot water op te skort nie, wat ongrondwetlik sou wees, maar die effek hiervan was byna dieselfde. Steinberg sê verskeie inwoners in die geaffekteerde dorpe het by AfriForum om hulp kom aanklop toe hulle krane opgedroog het. AfriForum het in daardie stadium noodwaterpunte opgerig om die inwoners te help en in Maart 2021 met die hofproses begin.

AfriForum het noodwaterpunte aangebring om inwoners van die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit te help.

Rand Water het op kort kennisgewing voor vandag se hofverskyning van regsverteenwoordiger verander en het vir uitstel gevra, maar die hof het hul versoek geweier.

“AfriForum sal nie toekyk dat gemeenskappe gestraf word weens die wanbestuur van staatsentiteite en munisipaliteite nie. Ons sal ook nie skroom om op te tree indien hierdie drakoniese maatreëls weer in ander areas geïmplementeer word nie,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Volg hierdie skakel om AfriForum die mandaat te gee om dieselfde in jou dorp te doen.

Soortgelyke plasings