|

Kilometers se hemelhoë gras waai danksy Sasolburg-tak, gemeenskap

Groot ontevredenheid oor hoe sleg die veld tussen die R59 en H.F Verwoerdweg in Sasolburg onderhou word, het inwoners genoop om self tot aksie te spring en die AfriForum-tak se hulp in te span om kilometers van toegegroeide veld en bossies agter die plaaslike Checkers te verwyder.

Die gras het ná swaar reën ’n halfmeter hoog gestaan en bekommernisse laat ontstaan dat dié gebied in ’n stortingsterrein omskep sou word. Talle vullissakke was reeds knus daar weggebêre toe die vrywilligers die veld begin tem het.

AfriForum het die nodige toerusting verskaf, terwyl lede van die gemeenskap planne beraam het oor hoe om dié groot strook gras te takel. Deur die loop van twee dae het dit nagenoeg 20 mense – toegerus met grassnyers en randsnyers – gevat om ongeveer 5 hektaar gras te sny.

Johan Cooks, voorsitter van die Sasolburg-tak, het die inwoners bedank wat toenemend betrokke raak by opruimingswerk soos dié.

“Hierdie is ’n sprekende voorbeeld van ’n gemeenskap wat eienaarskap neem van hul dorp,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir die Mooirivier. “Ek glo dat die gemeenskap van Sasolburg nog ’n groot verskil in die gebied sal maak.”

Cooks het intussen die inwoners van Sasolburg uitgenooi om die AfriForum-tak se maandelikse mark, wat voortaan by Die Veiling sal plaasvind, te besoek. Die eerste mark word vir die laaste Saterdag in Maart beplan.

Raak vandag nog by AfriForum se Sasolburg-tak betrokke om ’n wesenlike verskil in die gemeenskap te maak. Kontak Johan Cooks by 083 230 9073 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings