AfriForum bekom hofbevel om grondgryp te keer


AfriForum het vandag die Noordwes hoë hof in Mafikeng genader en ’n dringende bevel bekom om ’n grondgryp te keer, asook om verdere grondgrype op privaat grond buite Rustenburg te verhoed. Die polisie word ingevolge dié bevel verplig om saam met die balju teen die betreders op te tree.

Dit volg nadat Fernando Goncalves se grond wederregtelik betree is en die betreders onmiddellik begin het om erwe af te merk en strukture op te rig. Goncalves het saam met AfriForum se plaaslike takvoorsitter probeer om ’n klag van betreding by die polisiekantoor in Rustenburg in te dien. Die polisie het egter geweier om ’n saak te open en om enige daadwerklike stappe te doen om die grondgryp teen te staan.
AfriForum het sy regspan onmiddellik opdrag gegee om die nodige aansoek voor te berei. Dié aansoek is onder meer drie keer per e-pos aan die polisiekantoor in Rustenburg gestuur, maar is die aansoek is eenvoudig uitgevee sonder dat dit gelees is.

“AfriForum sal weer eens ’n siviele aksie teen die polisie loods weens hul versuim en nalatigheid. Wanneer die koste van die aansoek by die polisie verhaal is, sal dit aangewend word om sowel grondgrype verder te bestry as om lakse polisiestasies tot verantwoording te roep,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder.
“Die polisie skitter in hul afwesigheid ondanks verskeie pogings om hulle tot aksie te roep. Pres. Cyril Ramaphosa hou aan die wêreld voor dat grondgrype nie bestaan nie en dat die polisie sal optree indien grondgrype plaasvind. Tog het die Rustenburg-polisiestasie skynbaar nie daardie wil nie,” sê Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidshoof vir die sentraalstreek.

Soortgelyke plasings