|

AfriForum se Mpumalanga-buurtwagte hou massapatrollie

Die AfriForum-buurtwag in Mpumalanga het op 8 April 2022 in samewerking met die SAPD, die plaaslike GPF, gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies ’n massapatrollie in hul onderskeie gebiede uitgevoer om polisiëringsigbaarheid te skep. Die patrollie het omstreeks 16:00 begin en tot 08:00 die volgende oggend voortgeduur.

11 buurtwagte bestaande uit 143 patrolleerders het aan die patrollie deelgeneem en ’n totaal van 3 945 km is afgelê. Die onderskeie buurtwagte het 17 voorvalle gedurende die patrollie hanteer en 16 arrestasies is deur die buurtwagte uitgevoer.

AfriForum se Middelburg-buurtwag het ook op 8 April nuwe toerusting ontvang wat insluit nuwe glimbaadjies en lyfpantser as deel van die toerusting wat buurtwaglede van die organisasie ontvang. Die buurtwag het ook 25 nuwe handradio’s ontvang om kommunikasie tydens buurtwagaktiwiteite te vergemaklik.

“Ons buurtwagte sal voortdurend projekte aanpak en gereeld patrollies ry om misdaad in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies hok te slaan en veiligheid te bevorder,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

“Die veiligheidsituasie in ons land is besig om drasties te vererger. Dit is dus vir ons belangrik om sigbare patrollies te hou sodat ons die inwoners in ons gemeenskappe kan ondersteun en misdadigers die gebied ontsê,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig: SMS “Buurtwag” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings