|

AfriForum bekommerd oor nuutste voorgestelde wysigings aan waterwetgewing

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag sy ernstige kommer uitgespreek oor die Konsep- Nasionale Waterwysigingswetsontwerp en die Wysigingswetsontwerp op Waterdienste wat op 17 November 2023 in die Staatskoerant vir openbare deelname gepubliseer is.

Voorgenome wysigings volg op die Departement van Water en Sanitasie (DWS) se vroeëre omstrede pogings om regulasies uit te vaardig wat beoog om watergebruiklisensies onderworpe te maak aan raskwotas en ontspanningswatergebruikers se regte te onteien. Dié voorgenome regulasies is egter ter elfder ure teruggetrek omdat dit teenstrydig was met die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998).

Die nuutste voorgestelde wysigings aan die Nasionale Waterwet en die Wet op Waterdienste (Wet 108 van 1997) maak dit duidelik dat die DWS steeds van voorneme is om radikale rassetransformasie af te dwing op watergebruikers en die voorsiening van waterdienste. Dié beoogde transformasie is onder meer duidelik in die uitdruklike vereistes wat in hierdie verband vir watergebruikslisensieaansoeke gestel word sowel as die herroeping van bestaande wettige watergebruike.

Sekere elemente van die voorgestelde wysigings is nodig en prysenswaardig – soos die strenger beskerming van strategiese waterhulpbrongebiede; swaarder strawwe vir misdrywe soos die besoedeling van waterhulpbronne; en die beoogde regulering van hidrobreking. Die voorgestelde wysigings bevat egter ’n aantal foute, teenstrydighede en onregmatige bepalings.

Openbare deelname sal tans tot 16 Januarie 2024 toegelaat word. AfriForum hou egter vol dat dié sperdatum onbillik en onhaalbaar is aangesien daar wesenlike veranderinge deur die wysigings beoog word en dit nie genoegsame tyd vir diepgaande en betekenisvolle ondersoek en kundiges se insette sal bied nie.

“AfriForum gaan daarom ’n versoek aan die minister rig om die tydperk vir openbare deelname te verleng. Die DWS se strategie om openbare deelname gedurende die feesseisoen te onderneem vir wetgewing wat sulke noemenswaardige veranderings behels, is teleurstellend en wek uiterste agterdog,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

AfriForum het reeds sy regspan instruksie gegee om volledige kommentaar oor die wysigings saam te stel.

Die voorgestelde wetgewing en besonderhede rakende openbare kommentaar is beskikbaar by https://pmg.org.za/call-for-comment/1394/.

(Foto: Sterkfonteindam, Wikimedia Commons, Tadpolefarm)

Soortgelyke plasings