|

MOTORKAPERS LOOP HULLE VAS TEEN AFRIFORUM SE BRITS-BUURTWAG

Die AfriForum-buurtwag in Brits het op 25 November 2020 gehelp om twee vermeende kapers vas te trek nadat die buurtwag inligting ontvang het oor ’n gekaapte voertuig in die Mount Amanzi-omgewing. AfriForum se gemeenskaplike operasionele sentrum in Brits is daarvan in kennis gestel, waarna bystand versoek is. ’n AfriForum-buurtwaglid het die gekaapte voertuig dopgehou terwyl bystand van die SAPD versoek is. Die buurtwag het in samewerking met die polisie gereageer, waarna twee verdagtes by ’n plaaslike sjebien gearresteer is. Die buurtwaglede het die proses gemoniteer om te verseker dat die SAPD verklarings by die verdagtes neem en dat die forensiese afdeling van die SAPD die toneel ondersoek.

“Ons is baie dankbaar dat ons die verdagtes kon vastrek. Hierdie sukses is behaal danksy proaktiewe optrede en die goeie samewerking binne die buurtwag, maar ook danksy al die ander rolspelers wat gehelp het om die verdagtes vas te trek,” sê Thys van Heerden, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Brits-tak.

“AfriForum se Brits-buurtwag het weer eens gewys dat hulle ’n stabiliserende rol in die Brits-gemeenskap speel. Gedissiplineerde buurtwagte wat binne die raamwerk van die wet optree en noue samewerking met die SAPD en ander organisasies handhaaf, is ’n noodsaaklike element van voorspoedige gemeenskappe,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Raak vandag nog by een van AfriForum se veiligheidstrukture betrokke: SMS “Veilig” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings