|

AfriForum bemagtig vroue gedurende Vrouemaand

Die AfriForum-tak in Kraaifontein het op 27 Augustus vroue bemagtig deur ’n selfverdedigingklas vir hulle te reël, juis omdat Augustus op die bewusmaking van geslagsgebaseerde geweld en geweld teenoor kinders fokus.   

Die Kraaifontein-tak het vroue na die C.O.B.R.A Self-Defence Academy genooi waar JP Muller, ’n gekwalifiseerde selfverdedigingsinstrukteur van C.O.B.R.A, aan die vroue opleiding gegee het om hulle teen die mees vermelde misdade te kan verdedig. Die onlangse misdaadstatistieke wat in Augustus vir 2021/2022 gepubliseer is, het gewys dat misdaad teen vroue en kinders steeds kommerwekkend hoog is.

“Die goeie opkoms van die vroue wys dat hulle oor hul veiligheid bekommerd is, en dat daar in werklikheid ’n uitroep van vroue vir hulp is,” sê Leendert Stoop, voorsitter van AfriForum se Kraaifontein-tak. 

 “Misdaad in ons land word nie genoeg veroordeel nie, en politici dra nie veel by om dit te bekamp nie. Elke lid van die publiek behoort selfverdediging ’n prioriteit maak, daarom moedig AfriForum die publiek aan om hulleself met selfverdedigingsvaardighede te bemagtig”, sê Johan Crous, distrikskoördineerder vir die Boland.

Die Boland-tak moedig die gemeenskap aan om by hulle eie AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil in hul gemeenskap te maak: SMS “Boland” na 45350 (R1) om vandag aan te sluit.

Soortgelyke plasings